Slegs drie vullisterreine in Gauteng op standaard, toon AfriForum-oudit
Slegs 23%, oftewel drie uit die 13 vullisterreine en oorlaaistasies in die land se digsbevolkte provinsie wat vanjaar as deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit geoudit is, voldoen aan die minimum vereistes van verantwoordelike afvalbestuur. Dié terreine (die Roodepoort-vullisterrein en die Libanon-vullisterrein in Westonaria in die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit, en die privaat bestuurde Tonkmeter-fasiliteit in Springs) se sukses word egter oorskadu deur die swak prestasie van ander vullisterreine in dié provinsie.
AfriForum se Vullisterreinoudit-verslag toon voorts dat Gauteng se terreine vanjaar ’n gemiddelde nakomingspunt van slegs 64% kon haal – 20 persentasiepunte laer as in 2025. Slegs die Wes-Kaap, met ’n gemiddelde nakomingspunt van 66%, het hierdie jaar beter as Gauteng presteer.
AfriForum het vanjaar 132 vullisterreine en oorlaaistasies in al nege provinsies geoudit, maar slegs 30 terreine, oftewel 23% hiervan, het aan minstens 80% van die vereistes van die oudit voldoen. Dit dui daarop dat gemiddeld van nagenoeg agt uit elke tien terreine landwyd ernstige tekortkominge in infrastruktuur, operasionele bestuur of nakoming van basiese vereistes toon.
Volgens AfriForum se Vullisterreinoudit-verslag wat pas bekendgestel is, het terreine in die Ekurhuleni- en Tshwane-metro’s veral swak gevaar. Nie een van die vyf terreine wat in die Ekurhuleni-metro geoudit is, of een van die vier operasionele terreine in die Tshwane-metro kon vanjaar slaag nie.
In die Tshwane-metro het drie terreine, naamlik die Hatherley-, Soshanguve- en Bronkhorstspruit-terreine, boonop ’n veel later ouditpunt as verlede jaar behaal. Hierdie drie terreine het ook onderskeidelik 46%, 36% en 51% swakker presteer as net vyf jaar gelede. Dié noemenswaardige verswakking wys op ’n kommerwekkende en deurlopende daling in die nakoming van die minimum vereistes vir afvalterreine in dié metro.
Die Ekurhuleni-metro, waar nagenoeg 4,1 miljoen mense woon, is vyf terreine geoudit, naamlik die Alberton-oorlaaistasie, die Weltevredenpark-terrein in Brakpan, die Simmer & Jack-terrein in Germiston en die Highveld- en Norkem Park-oorlaaistasies in Kempton Park. Dié vyf terreine kon gesamentlik net ’n gemiddelde nakomingspunt van 59% behaal (’n marginale beter punt as die 54%-gemiddeld wat die vier terreine in die Tshwane-metro kon saamskraap).
Yvonne Gerber, AfriForum se streekskoördineerder vir die Oos-Rand, meen swak prestasie van vullisterreine in die Ekurhuleni-metro laat veel te wense oor. “Vir ’n metro wat miljoene mense moet bedien, is doeltreffende afvalbestuur ononderhandelbaar en die Ekurhuleni-metro sal sy sokkies moet optrek om bestaande probleme ten opsigte van veral veiligheid en kapasiteit die hoof te bied,” verduidelik sy.
Gerber voer ook aan dat die bevolkingsgroei in dié metro die behoefte aan beter afvalbestuur selfs meer dringend maak. “Die Ekurhuleni-metro se eie ruimtelike ontwikkelingsraamwerk wat vroeër vanjaar vrygestel is, toon dat die metro teen 2030 nagenoeg 4,8 miljoen mense sal huisves, terwyl die bevolking teen 2040 tot ’n verwagte 5,4 miljoen sal toeneem. Dié groei beklemtoon dat meer en beter vullisterreine sowel as ’n versnelde benadering tot herwinning noodsaaklik word,” sluit sy af.
AfriForum se streekskoördineerder in die Tshwane-metro, Maree van den Berg, hou vol dat die agteruitgang van vullisterreine in dié metro, beklemtoon dat dienslewering hier – ten opsigte van veral afvalbestuur – ’n nuwe laagtepunt bereik het. “Die metro is terdeë bewus van die uitdagings ten opsigte van afvalbestuur waarmee dié hoofstad te kampe het. Probleme met kapasiteit, lae herwinningsvlakke en onwettige storting is maar enkele van die lang lys uitdagings hier. Voorts het die vier oorblywende vullisterreine in die metro maar ’n gesamentlike gemiddelde leeftyd van net meer as ses jaar oor, en na mate die bevolkingsgetalle in dié metro bly groei, sal die druk selfs meer toeneem. Daar is nie meer tyd vir verskonings nie – die metro se swak prestasie in dié oudit wys reeds dat daar afgestuur word op ’n ramp, en wanneer die onafwendbare gebeur, en die bestaande terreine hul kapasiteit bereik, sal die ramp nie meer afgeweer kan word nie,” sluit Van den Berg af.



