Babasmous sterf voor uitspraak in bedrogsaak gelewer kon word
Letitia van den Berg wat haarself as ’n maatskaplike werker wat spesialiseer in aannemings voorgehou het en só talle kinderlose paartjies geswendel het, is Sondagaand (11 Oktober) oorlede. Die hof sou Maandag (12 Oktober) uitspraak gelewer het in die bedrogsaak teen haar. Haar dooodsertifikaat is vanoggend by die Pretoriase Hooggeregshof ingedien en die saak is van die rol geskrap sonder dat uitspraak gelewer is. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het verskeie van haar slagoffers verteenwoordig en het ’n belangrike rol gespeel om te verseker dat die saak behoorlik ondersoek word en dat Van den Berg uiteindelik vervolg kon word.
Die privaatvervolgingseenheid het Sonia Leithgöb, Kimberley Kruger, Erica Franks, Shannon Staniforth en Sandra Pretorius verteenwoordig.

Van den Berg het potensiële aanneemouers, talle wat nie self kinders kan kry nie, geld gevra vir verskeie dienste in die aannemingsproses. Dít terwyl daar in werklikheid geen kind was op aan te neem nie, of ’n kind is aan hoopvolle ouers aangebied ten spyte daarvan dat die biologiese ma nie tot ’n aanneming ingestem het nie. In sommige gevalle het sy tot sover gegaan as om sonar skanderings van die beloofde baba aan die paartjies te stuur en geld te vra vir die biologiese ma, wat nie bestaan het nie, se hospitaalrekeninge net sodat sy hulle later sou laat weet dat die biologiese ma ’n miskraam gehad het of gesterf het. Haar oortredings strek so ver as 2014 terug.
Sommige van hierdie hoopvolle paartjies het babakamers gereed gekry, speelgoed, bottels en stootwaentjies gekoop vir die baba wat nooit sou kom nie. Dit het die paartjies verpletterd gelaat oor ’n baba wat hulle geglo het binnekort in hulle arms sou wees.
Pretorius is een van Van den Berg se slagoffers, sy meen dat hoewel Van den Berg dood is die emosionele verwoesting steeds daar en dat Van den Berg se gevoellose en wrede dade nie vergeet moet word nie. “Ek dink ons moet steeds haar slagoffers en die pyn wat sy aan hulle veroorsaak het onthou. Vandag was ’n baie emosionele en onverwagte wending in hierdie saak. Ons het so lank gewag vir geregtigheid en dit is nou van ons af weggevat. Ek het nodig gehad om die woord ‘skuldig’ te hoor. Ek het vrede nodig gehad. Ek het nodig gehad om te hoor dat sy gevonnis sal word vir wat sy aan ons gedoen het,” sê Pretorius.
Sy het AfriForum se privaatvervolgingseenheid bedank dat dié eenheid hulle onverpoosd deur die proses ondersteun het. “Ons is so mooi ondersteun, nie net deur hierdie saak nie, maar ook emosioneel. In daardie opsig was dit ’n wonderlike ervaring. Ons het AfriForum genader want ons het nie genoeg ondersteuning van die aanklaer en ondersoekspan ontvang nie. Ons het ekstra hulp nodig gehad en in daardie opsig was AfriForum uitstekend.”
Staniforth, nóg ’n slagoffer, sê dat om die regter se uitspraak en bevindinge teen Van den Berg te hoor ’n belangrike deel sou wees in die proses om afsluiting te kry ná hierdie verwoestende hoofstuk in haar familie se lewe. “Dit laat ons egter nou met geen geregtigheid en geen antwoorde. Ons gaan nou al vir vier en ’n half jaar deur hierdie. Ons het ’n babakamer gereed gekry vir kindertjies wat nooit huis toe gekom het nie. Ons het gerou oor die dood van babas wat kwansuis gesterf het. Ons moes ’n regstryd stry en het die welsyn in ons huis gehad. Dit was onwerklik dat ons moes veg vir ons dogter wie se foto’s sy gebruik het om ander families te swendel en nou kom hierdie vrou net weg met dit. Wraak en geregtigheid is nie vir my dieselfde ding nie. Ons het vier en ’n half jaar gewag vir afsluiting,” sê Staniforth.
Staniforth sê voorts dat hoewel sy dankbaar is dat sy die geleentheid gehad het om teen Van den Berg te getuig, het die hof se besluit om nie die uitspraak te lewer nie haar en haar familie beroof van die geleentheid om te hoor dat hulle lyding erken word. “Ons moes gehoor het hoe die hof sê wat sy gedoen het en dat die skuldigbevinding hardop gelees word, maar ons het minstens die kans gehad om teen haar te getuig. Dít was iets wat moes gebeur. Ons het die geleentheid gekry vir ’n regter om ons in die oë te kyk en erkenning te gee vir dit waardeur ons is.”
Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dat dié eenheid hierdie families ondersteun het ná die staat sy plig versaak het om na slagoffers van misdaad om te sien en hulle te ondersteun. “Die staat se versuim om met misdaadslagoffers te kommunikeer skep sekondêre trauma wanneer hulle nodig het om die proses te verstaan en wanneer hulle uiteindelik geregtigheid kry. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het nie net verseker dat hierdie saak behoorlik ondersoek word en dat vervolging uiteindelik plaasgevind het nie, ons het ook hierdie vroue deur die hofsaak ondersteun.”
“Dit is betreurenswaardig dat die beskuldigde gesterf het want dit het hierdie slagoffers van die geleentheid ontneem om te hoor dat ’n hof hulle swaarkry geldig verklaar en bevestig dat Van den Berg se wrede en berekende optrede nie ongestraf sal gaan nie. Ten minste het hulle die geleentheid gehad om hulle stories aan ’n hof te verte en hulle is gehoor. Die privaatvervolgingseenheid sal aanhou om misdaadslagoffers te ondersteun wat gereeld in die steek gelaat word deur die organisasies en instellings wat beweer dat hulle op slagoffers gefokus is,” sluit Bateman af.



