Voorgestelde wet teen onwettige mynbou laat ernstige vrae oor wetstoepasingsvermoë ontstaan
Die regering se voorgestelde oplossing in die stryd teen onwettige mynbou kan die onbedoelde gevolg hê dat onwettige bedrywighede moeiliker opgespoor word as nuwe tradisionele- en kleinskaalse mynboupermitte ingestel word sonder ’n ooreenstemmende uitbreiding in regulatoriese en wetstoepassingskapasiteit. Dít is een van AfriForum se kernbesware in sy kommentaar oor die Wysigingswetsontwerp op Algemene (Mynbou)wette, 2026.
Die wetsontwerp stel boetes van tot R100 miljoen of selfs 30 jaar gevangenisstraf voor vir sekere onwettige mynoortredings, kriminaliseer die verlening van bystand aan onwettige mynwerkers en versterk die Suid-Afrikaanse Polisiediens se wetstoepassingsbevoegdhede. Hierdie hervormings is nodig, maar hulle sal nie slaag as die regering nie effektief kan moniteer wat op die grond gebeur nie.
Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, word die risiko veral kritiek wanneer die 2026-wetsontwerp saamgelees word met die onvoltooide Wetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale Hulpbronne wat in 2025 gepubliseer is. Daardie wetsontwerp stel ’n nuwe raamwerk voor om tradisionele- en kleinskaalse mynbou te formaliseer. Die 2026-wetsontwerp inkorporeer reeds daardie voorgestelde permitkategorieë in die wetlike grens tussen wettige en onwettige mynbou.
AfriForum waarsku dat die formalisering van tradisionele- en kleinskaalse mynbou “regulatoriese kamoeflering” kan skep. ’n Geldige permit kan dit op die oppervlak laat blyk dat ’n mynbou operasie wettig is terwyl mynbou buite die gemagtigde gebied uitbrei, ongemagtigde minerale of metodes gebruik word, of onwettig ontginde minerale na die wettige mark gekanaliseer word.
“Die regulatoriese raamwerk is net so doeltreffend soos die owerhede wat verantwoordelik is vir die afdwinging daarvan. ’n Vonnis van 30 jaar beteken baie min as onwettige aktiwiteite waarskynlik nie in die eerste plek opgespoor sal word nie. As die regering die aantal geformaliseerde mynboubedrywighede aansienlik verhoog sonder om gelyktydig sy kapasiteit om dit te inspekteer en te reguleer te verhoog, kan misdadige sindikate bloot meer geleenthede kry om onwettige aktiwiteite agter wettige permitte weg te steek,” verduidelik De Vaal.
AfriForum waarsku ook dat die twee onvoltooide wetsontwerpe wat oorvleuelende wysigings aan dieselfde bepalings van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne 28 van 2002 voorstel onsekerheid skep. Die 2026-wetsontwerp is afhanklik van permitkategorieë wat oorspronklik in die afsonderlike 2025-wetsontwerp voorgekom het, terwyl die twee wetsontwerpe ook verskillende wysigings aan verskeie van dieselfde afdwingingsbepalings voorstel.
Die organisasie maak verder beswaar daarteen dat die nuutste voorgestelde hervormings vir strenger optrede teen onwettige mynbou gekoppel word aan die onvoltooide 2025 wetsontwerp se raamwerk wat voorsiening maak vir rasgebaseerde toekenning van sekere tradisionele- en kleinskaalse mynbougebiede en ook ministeriële diskresie in besluitnemingsprosesse uitbrei.
AfriForum het sy gedetailleerde kommentaar ingedien waarin gevra word dat die kernhervormings vir onwettige mynbou in ’n samehangende wetgewende raamwerk gekonsolideer word en dat die formalisering van tradisionele- en kleinskaalse mynbou eers sal voortgaan sodra voldoende kadastrale, inspeksie-, naspeurbaarheids- en handhawingskapasiteit in plek is.
“Strenger strafregtelike strawwe kan die regering se wetstoepassingsbevoegdhede versterk, maar dit kan nie funksionerende instellings vervang nie. Sonder die mense, stelsels en hulpbronne om die wet af te dwing, loop die regering die risiko om ’n oorwinning op papier te vier, terwyl onwettige mynbou in werklikheid net beter verbloem word,” sluit De Vaal af.



