|

Inskrywings vir Entrepreneur van die Jaar-kompetisie nou oop!

Dinamiese entrepreneurs met winsgewende ondernemings wat al langer as 1 000 dae, maar minder as 10 jaar lank, sake in Afrikaans doen kan nóú inskryf vir AfriForum se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie. Die wenner van vanjaar se kompetisie sal wegstap met die gesogte Entrepreneur van die Jaar-titel, R50 000 kontant en nog vele meer.

Dié kompetisie word vanjaar al vir die negende keer aangebied en het sedert sy ontstaan in 2017 meer as 520 entrepreneurs uit elke uithoek van die land gelok om deel te neem, kritieke blootstelling te kry en waardevolle sakeleiding te ontvang.

Vanjaar se kompetisie bied selfs meer waarde vir elke deelnemer aangesien alle deelnemers kan uitsien na ses meesterklasse waarin van die voorste leiers in bemarking, intellektuele eiendomsreg en ondernemingsbestuur hul kennis gaan deel. Kenners wat dié meesterklasse gaan lei is:

  • Jandré de Beer (stigter van V8 Media, ’n toonaangewende e-handel en digitale sakebemarkingsagentskap);
  • Johann Smith (’n dosent verbonde aan Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe met ’n diep kennis van ondernemingsbestuur, innovasie en statistiek); en
  • Christiaan Steyn (’n spesialisprokureur in intellektuele eiendomsreg en stigter en besturende direkteur van STEYN IP, ’n regsfirma wat spesialisdienste bied aan entrepreneurs, besighede en die kreatiewe bedryf).
Jeandré de Beer, Johann Smith en Christiaan Steyn

Die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie bied boonop aan die eienaars van klein- en mediumondernemings wat na die finaal deurdring, die geleentheid om vyf verdere pasgemaakte besigheidsafrigtingsgeleenthede by vyf vooraanstaande besigheidsmentors te ontvang. Tydens dié vyf meesterklasse sal sakeleiers die uiteindelike finale vyf finaliste onder hul vlerk neem en die fynere kunsies van entrepreneurskap leer. De Beer en Steyn word hierin bygestaan deur:

  • Rhona Erasmus (mededirekteur en -stigter van REALSKIN en eienaar van Trouvaille Boutique-dagspa);
  • Kobus Galloway (illustreerder, strokiesprentkunstenaar, skrywer, ontwerper en die man agter Idees vol vrees); en
  • Juanita Vorster (sakestrateeg en entrepreneur met jare se ervaring in besigheidsuitnemendheid, leierskap, verandering en bestuur).
Rhona Erasmus, Kobus Galloway en Juanita Vorster

Deon de Jager, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, meen die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie is die ideale geleentheid vir sake-eienaars om hul onderneming te laat groei én hul sukses te vier. “Ons weet daar is ongelooflike entrepreneurs wat elke dag hard werk om hul ondernemings te bou, werk te skep en ’n verskil in hul gemeenskappe te maak. Met Entrepreneur van die Jaar wil ons hierdie entrepreneurs se stories vertel, hul prestasies vier en erkenning gee aan die mense wat elke dag help om ons ekonomie en gemeenskappe sterker te maak,” verduidelik hy.

Inskrywings sluit op 30 September 2026, waarna die publiek vanaf 3 Oktober die kans sal kry om vir hul gunstelinge te stem. Tien semifinaliste word op 19 Oktober aangewys en op 23 Oktober word die vyf finaliste wat na die finaal deurdring, aangekondig. Die finaal van dié taai kompetisie vind uiteindelik op 10 en 11 November plaas in Pretoria.

Klik hier vir meer inligting en om vandag nog in te skryf vir die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf