|

AfriForum bring water na bejaarde ná Matjhabeng se beloftes opdroog

Die inwoners van klein dorpe moet gereeld tred hou met diensleweringsgebreke en een inwoner van Welkom was vir maande lank aan die uiterste van dié gebreke onderwerp. Vir die 80-jarige Freda Strauss was die oopdraai van ’n warmwaterkraan ’n edele droom. Dit totdat AfriForum ingetree het en ná maande van droë krane vir haar ’n watertenk en drukpomp by haar huis geïnstalleer het.

Die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit het geruime tyd ernstige watervoorsieningsprobleme en sommige woonbuurte in Welkom kry reeds met beurtwater te doen. Sedert Desember 2025 was water by Strauss se woning slegs tussen 03:00 en 05:00 beskikbaar. Vir maande lank moes sy in ’n klein handewasbak was en elke Donderdag het sy 26 bottels volgemaak om vir drinkwater, kos, skottelgoed, vloere en toilette te gebruik.

“Geen bejaarde behoort in die vroeë oggendure wakker te word om water in bottels op te gaar omdat ’n munisipaliteit nie ’n betroubare diens kan lewer nie,” se Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

AfriForum Dienste, wat sedert Julie vanjaar ’n praktiese oplossing vir gebrekkige munisipale dienslewering aan die inwoners van Welkom en omliggende gebiede bied, het egter ingetree en die nodige watervoorsieningstelsel by Strauss se huis geïnstalleer.

“Die eerste keer toe warmwater uit die krane kom, het ’n ongelooflike dankbaarheid oor my gekom. Die Here het my gebede verhoor,” vertel Strauss.

“Elke aansluiting verteenwoordig ’n huishouding wat nie meer heeltemal weerloos teen ’n droë kraan staan nie. Mev. Strauss se verhaal wys dat diensleweringsverval nie net in miljoene rande en persentasies gemeet word nie, maar in die waardigheid wat inwoners verloor wanneer hulle nie kan bad, wasgoed was, kos voorberei of ’n toilet spoel nie. Skoon en betroubare water is nie ’n voorreg nie, maar ’n grondwetlike reg,” voeg Ikking by.

Ernstige diensleweringsprobleme

Matjhabeng se diensleweringsprobleme duur al die afgelope 15 jaar voort, maar sedert 2019 het watervoorsiening net verder versleg. ’n Groot waterlek naby die Mimosadam wat in Desember 2019 aangemeld is, het vir langer as 1 200 dae geduur voordat dit uiteindelik herstel is. Teen 2023 het Matjhabeng ongeveer 56% van sy water verloor en teen Maart 2025 is daar bevind dat ongeveer 60% van die munisipaliteit se grootmaatwater verlore gaan. Dis ’n verlies van meer as R480 miljoen per jaar.

“Terwyl inwoners soos Strauss elke druppel in bottels moes opgaar, het die munisipaliteit herhaaldelik onderneem om die probleme aan te pak, maar weinig daaraan gedoen. Alhoewel R4,2 miljard oor vyf jaar bewillig is vir die sanitasieprogram bied die projek nie opsigself ’n oplossing vir die waterprobleme nie,” sê Ikking.

Die munisipaliteit is selfs in die hof vasgevat toe die Vrystaatse Hooggeregshof in Oktober 2024 bevind het dat Matjhabeng versuim om sy grondwetlike verpligtinge na te kom, waaronder die lewering van volhoubare basiese dienste en die bevordering van ’n veilige en gesonde omgewing.

Daar is boonop verlede jaar by ten minste een wateraanleg E. Coli in die water gevind en vanjaar het verskeie kinders siek geword ná hulle vermoedelik besoedelde water gedrink het.

“Dit is onaanvaarbaar dat inwoners met hierdie vlak van munisipale verval opgeskeep sit en boonop verwag word om daarvoor te betaal. AfriForum sal voortgaan om diensleweringsgebreke teen te werk en munisipaliteite verantwoordbaar te hou,” sluit Ikking af.

Klik hier om meer oor AfriForum Dienste uit te vind.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf