Rioolramp woed in Upington, besoedeling van Oranjerivier dreig, waarsku AfriForum
’n Besoedelingsramp woed onverpoosd voort in Upington en voorlopige evaluasie daarvan dui volgens die burgerregteorganisasie AfriForum daarop dat die vloei van onbehandelde riool vanaf die Louisvaleweg-oksidasiedam selfs tot in die Oranjerivier vloei. AfriForum waarsku dat die impak van die vloei van riool deur die beskadigde damwal ernstige gesondheidsrisiko’s inhou en ondanks die feit dat die lekkasie reeds nagenoeg ’n jaar gelede die eerste keer by die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit aangemeld is, stééds nie herstel is nie.
AfriForum eis daarom nou dringende optrede van die munisipaliteit.
In ’n brief wat gister gerig is aan dr. Elias Ntoba, munisipale bestuurder, eis AfriForum dat die munisipaliteit dadelik die vloei van riool stop; die beskadigde wal herstel en beveilig en alle gevaarsones beveilig. Daarbenewens dring AfriForum daarop aan dat die munisipaliteit die gemeenskap in kennis stel van die gesondheidsrisiko’s wat die vloei inhou; dat ’n onafhanklike omgewingsassessering gedoen moet word; en dat ’n ondersoek gedoen word na die toestand van die munisipaliteit se oksidasiedamme, die drakrag van die damme en die oorsaak van die lekkasie. AfriForum eis ook inligting rakende die munisipaliteit se optrede om die ramp te voorkom, wanneer die munisipaliteit van die lekkasie bewus geword het en of die voorval ingevolge die Nasionale Waterwet aangemeld is.
Werner Strauss. AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, het die terrein besoek en die vloei van die stroom self gevolg. Sy gevolgtrekking is dat rioolwater uit die beskadigde dam oor ’n afstand van ongeveer 4 km vloei deur die naburige woongebied, onder die N10 en deur die nywerheidsgebied. Dié stroom loop onder meer verby skole, huise en verskeie sake- en voedselverwante ondernemings. Dit blyk voorts dat dié stroom selfs deur die PepsiCo/Pioneer Foods SAD-terrein vloei voordat dit uiteindelik in die Upington-kanaal land, wat op sy beurt in die Oranjerivier vloei.
Hy waarsku dat sy voorlopige ondersoek na die vloei van die riool bevestig dat dié besoedeling geen nietigheid is nie, maar dui op ’n omvangryke openbare gesondheids-, omgewings-, voedselveiligheid- en waterbesoedelingskrisis.
“AfriForum dring aan op onmiddellike ingryping deur die munisipaliteit. Ons durf nie wag totdat gesondheidsprobleme aangemeld word nie. Daar moet daadwerklik opgetree word, watermonsters moet geneem word en die omvang van die risiko moet dringend bepaal word,” verduidelik Strauss.
Strauss voer voorts aan dat die vloei van riool nie net ’n onmiddellike risiko inhou vir die plaaslike gemeenskap en ondernemings – veral dié in die voedselverwerkingsbedryf – nie. “Dit kom voor asof die riool sy pad na die Oranjerivier vind en ook dié lewegewende hulpbron bedreig,” meen hy.
AfriForum dring daarom daarop aan dat die Departement van Water en Sanitasie sonder verwyl betrek word by die ondersoek en onder meer ’n terreininspeksie moet onderneem en watermonsters in die kanaal en die rivier neem om te bepaal of die riool weliswaar dié bronne besoedel.
“Wetgewing, soos die Nasionale Omgewingsbestuurswet, oftewel NEMA, stel dit duidelik dat ingryping in gevalle soos dié nie opsioneel is nie, maar noodsaaklik. Alle belanghebbende rolspellers het dus nou ’n kritieke verantwoordelikheid om die vloei van riool te stop, dringende herstelwerk te onderneem en alle moontlike gesondheidsrisiko’s uit die weg te ruim,” sluit Strauss af.



