Keimoes-tak ontvang nuwe voertuig vir buurtwag- en gemeenskapsprojekte
Die AfriForum-tak in Keimoes het op 26 Mei ’n nuwe voertuig in ontvangs geneem wat aangewend sal word om buurtspan- en buurtwagaksies asook verskeie ander gemeenskapsprojekte meer doeltreffend uit te voer.
Dié voertuig kon met behulp van volgehoue maandelikse bydraes aangekoop word en sal aangewend word om weer terug te ploeg in die gemeenskap in.
“Die aankoop van hierdie voertuig is ’n resultaat van die gemeenskap se gewilligheid om saam te staan en te belê in iets wat hulle weet hulle gaan voordeel uit trek oor die lang termyn,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.
Die voertuig sal onder meer aangewend word tydens patrollies, ondersteuning van veiligheidsaksies, om toerusting vir aksies te vervoer en ook tydens projekte wat daarop gemik is om die Keimoes-gemeenskap te beveilig en te verbeter. Die voertuig sal ’n belangrike rol speel om reaksietye te verbeter en sigbaarheid in die gemeenskap te verhoog.
“Hierdie voertuig behoort aan die gemeenskap. Ons is dankbaar vir elke lid se ondersteuning en vertroue in die werk wat die tak verrig,” sê Meisie Pool, voorsitter van die AfriForum-tak in Keimoes.
Die Keimoes-tak sien daarna uit om met behulp van hierdie nuwe voertuig hul dienslewering verder uit te brei en nog meer waarde tot die gemeenskap toe te voeg. Die tak moedig inwoners aan om betrokke te raak by plaaslike veiligheids- en gemeenskapsinisiatiewe om saam ’n veiliger toekoms te bou.
Sluit vandag nog by jou naaste tak aan by www.wordlid.co.za.



