Skokvoorval in Krugerwildtuin ’n saak van nasionale belang – AfriForum
AfriForum betuig sy medelye met die geliefdes van die twee toeriste wat tragies hul lewens in die noordelike deel van die Krugerwildtuin verloor het en eis dat owerhede die ondersoek na dié voorval as ’n saak van nasionale belang hanteer. Hierdie voorval het skokgolwe deur die land gestuur en laat ernstige vrae ontstaan oor die veiligheid van besoekers aan dié wêreldbekende erfenisterrein.
AfriForum voer aan dat besoekers dringend duidelikheid en deursigtigheid benodig oor die omstandighede van die voorval, aangesien dit skynbaar die eerste voorval van hierdie aard in die geskiedenis van die Krugerwildtuin is. Enige aanduiding van moontlike kriminele betrokkenheid sal uiters kommerwekkend wees en moet deeglik ondersoek word om bestaande en toekomstige besoekers se veiligheid te waarborg.
“Die veiligheid van alle mense in Suid-Afrika, insluitend toeriste en besoekers aan nasionale erfenisterreine, is ’n saak van nasionale belang. AfriForum doen daarom ’n beroep op owerhede om alle beskikbare hulpbronne aan te wend om die feite van die saak vas te stel en die betrokkenes voor die gereg te bring,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.



