AfriForum waarsku teen korttermyn politieke gewin van naamsveranderinge – stel wen-wen oplossings voor
AfriForum waarsku dat die korttermyn politieke gewin wat deur naamsveranderings verkry kan word, nie die koste werd is nie. Dit volg op Gayton McKenzie, die minister van Sport, Kuns en Kultuur, se aankondiging in die Staatskoerant dat 21 plekname in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal verander.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit interessant dat naamsveranderinge dikwels kort voor verkiesings bekragtig word. “Dit is ’n soort magsvertoon wat maklik is om deur te voer wanneer groter probleme in dorpe en stede, soos infrastruktuurkrisisse uitdagings bied wat moeiliker opgelos kan word. Die naamsveranderinge lei ook die aandag van belangriker kwessies af,” meen sy.
Bailey wys daarop dat die huidige bedeling se naamsveranderinge meer probleme skep as wat dit oplos en langtermyn negatiewe gevolge meebring.
“Die koste vir die betrokke owerhede om al die naamsveranderinge te akkommodeer het tot gevolg dat geld spandeer moet word wat nie meer elders vir byvoorbeeld watervoorsiening of die herstel van paaie beskikbaar gaan wees nie. Die privaatsektor het ook onvoorsiene uitgawes wat beteken dat hulle borgskappe aan verdienstelike projekte moet inkort. Niemand baat hierby nie.”
Met spesifieke verwysing na die debatte wat die verandering van Graaff-Reinet se naam ontketen het, sê Bailey dat die gevolg is dat dit groter polarisasie onder die inwoners in die besonder, maar ook Suid-Afrikaners oor die algemeen tot gevolg het. “Afrikaners voel tereg dat hulle geskiedenis stelselmatig uitgevee word. Van die swart, bruin en wit inwoners eis nou ook dat ander prominente persone wat in die dorp gebore is, eerder vernoem moet word, byvoorbeeld die sakereus Anton Rupert of onderwyspionier Fred Hufkie. Die debatte en twis kring uit, in plaas daarvan dat mense voel meer gemeenskappe word ingesluit.”
Die feit dat die meerderheid inwoners tydens openbare raadplegingsessies teen die naamsverandering gekant was, skep verder die indruk dat hierdie byeenkomste net om die afmerk van ’n lys verpligtinge en vertoon gaan, en owerhede nie werklik in die publiek se menings belangstel nie. Dit skep die gevaar van toenemende apatie en weerstand.
Bailey stel voor dat oplossings gevind word waardeur alle gemeenskappe erkenning kan geniet en wedersydse respek gebou kan word. “Een voorbeeld is om al die dorp se prominente boorlinge te erken waar nuwe uitbreidings plaasvind, byvoorbeeld met straat- of woonbuurtname. ’n Ander is om nie omstrede figure soos politici te vernoem nie, maar dit kan steeds tot wedywering tussen gemeenskappe lei oor wie die ‘grootste ster’ is. In onder meer Pretoria is die wen-wen oplossing dat die stad steeds Pretoria heet, maar die munisipaliteit se naam Tshwane is. Dan kan dubbel naamgewing ook geld, soos in Tsjeggië waar dorpe beide Duitse én Tsjeggiese name dra, byvoorbeeld Eger/Cheb. Daar is baie beter oplossings om aan almal die nodige erkenning te gee sonder astronomiese koste of polarisasie, mits die politieke wil daarvoor bestaan,” sluit sy af.



