BKS-krisis: Regering se voet nou op boere se nek met verkryging, toediening van entstowwe
Die regering se nuutste plan om bek-en-klouseer die hoof te bied bewerkstellig monopolie op die verkryging en verspreiding van entstowwe. AfriForum meen dat hoewel oorhoofse monitering deur die regering nodig is, kan dit boere nie dwing om deel te neem aan ’n skema waarvan die kostes en voldoeningsregulasies nog onbekend is nie. Intussen moet talle beeste weens die regering se sentralistiese benadering, nou van vooraf ingeënt word ná hulle herbesmet is weens ’n gesloer met die tweede rondte inentings.
AfriForum meen dat die huidige skade, onsekerheid en herbesmettingsrisiko wat boere in die gesig staar, waarskynlik beperk of selfs voorkom kon word indien die regering die ruimte geskep het vir boere, privaat veeartse en die landboubedryf om self entstowwe te verkry en inentings vinniger en meer wydverspreid te kon implementeer.
“Die probleem is nie dat boere nie wou optree nie, maar eerder dat die regering te lank self beheer wou uitoefen oor ’n krisis wat vinniger versprei het as wat die betrokke departemente se administratiewe afdelings kon byhou,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum.
Hoewel die nuwe skema samewerking tussen die openbare en private sektore aanmoedig hou dit steeds heelwat probleme vir boere in. Boere moet self vir die entstowwe en die toediening daarvan betaal, hoewel die kostes daaraan verbonde nog nie bekend is nie en subsidies en kostedeling nog slegs ’n moontlikheid is.
Volgens De Klerk beteken dit dat daar nou van boere verwag word om self te betaal vir ’n inentingsproses wat reeds vroeër en vinniger kon plaasvind indien hulle self toegelaat was om die privaat sektor te nader. “Die regering se versuim om daadwerklik op te tree met hierdie krisis het die landboubedryf onnodig kwesbaar gelaat.”
Daarbenewens word deelname aan dié skema as “vrywillig” bestempel, maar dit blyk dat boere wat nie deelneem aan die skema nie, maar wel entstowwe benodig dit nie sal kan bekom nie. Boere wat nie hul samewerking aan hierdie skema en die vereistes daarvan gee nie loop ook die risiko dat hul plase onder kwarantyn geplaas kan word.
“In ’n krisis soos hierdie is tyd alles. Elke week se vertraging lei daartoe dat meer diere blootgestel word, skep groter onsekerheid en vererger ekonomiese skade. Die privaat sektor het die nodige kennis, netwerke en logistieke vermoë om vinniger te kan help, maar hulle moes vroeër toegelaat geword het om dit te doen,” voeg De Klerk by.
AfriForum doen nou ’n beroep op John Steenhuisen, die minister van Landbou, om alle onnodige struikelblokke vir deelname vanuit die privaat sektor uit die weg te ruim en ’n praktiese, bedryfsgedrewe noodplan te aanvaar.
“Boere moet nooit gyselaar gehou word deur ’n stadige regeringsproses nie. As die regering vroeër plek gemaak het vir die privaat sektor, kon die probleem waarskynlik al nader aan ’n volwaardige oplossing gewees het,” sluit De Klerk af.



