Welstandskenner deel wyshede met sake-eienaars van Bloemfontein

AfriForum Sakenetwerk weet hoe maklik sake-eienaars in die strik van uitputting en uitbranding val, maar soms nie betyds die waarskuwingstekens herken nie. Die motiveringspreker Brenda Myburgh het AfriForum Sakenetwerk se Bloemfontein-tak besoek en kundige advies met kreatiewe oplossings aan eienaars van ondernemings gedeel om die toepassing van welstand deurgaans in kleinsakeondernemings te laat seëvier.

Dié opleidingsgeleentheid is op 21 September by die Akademia-studiesentrum in Bloemfontein aangebied waar lede van Sakenetwerk se Bloemfontein-tak byeengekom het. Myburgh het sake-eienaars se aandag daarop toegespits dat die meerderheid eienaars nie hul menswees van hul werk of onderneming kan skei nie en dat die een ’n noemenswaardige effek op die ander het.

“Ondernemings word deesdae gekenmerk deur oormoeg bestuurders wat sinies raak oor hul droom en dan chroniese oorweldig raak. Die gevolg daarvan is dat bestuursbesluite te vinnig geneem word, gegrond word op emosie en ’n negatiewe gevolg het omdat dit nie geskoei is op gebalanseerde bestuursinligting nie,” sê Myburgh.

Sy het bygevoeg dat daar ’n wesenlike verskil tussen persepsie en realiteit is, daarom kan persoonlike groei ’n sterk bydra maak tot gesonde sake- en kliënteverhoudinge.

“Oorweeg die faktore wat jou frustreer, vrae jouself af wat jou unieke sterkpunte is en watse vaardighede jy moet uitbou. Stop ook en identifiseer wat jou dreineer en verwyder die probleem of emosionele lekplek. Kies dan slegs drie prioriteite om in die korttermyn op te fokus en implementeer dit binne ’n gegewe tydstip. Daardie aksie bewerkstellig ’n sukses wat verrykende gevolge het, veral as dit dan ’n gewoonte word,” sê Myburgh.

Marisa Kruger, AfriForum Sakenetwerk se voorsitter van die Bloemfontein-tak, het benadruk hoe leersaam die sessie was, veral omdat dit toepaslik is op enige tipe besigheid in enige industrie. “Ek besef nou hoe belangrik dit is om jou persoonlike welstand in orde te hê, sodat dit goed sal gaan met jou onderneming.”

Lede van AfriForum Sakenetwerk kan hierdie maandelikse netwerkgeleenthede gratis bywoon, asook ander voordele geniet. Sluit vandag nog by een van AfriForum Sakenetwerk se takke aan. Klik hier vir meer inligting of om jou naaste tak op te spoor.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners