|

AfriForum eis waarnemende polisiekommissaris se ingryping ná zama-zama-geweld in Schoemanskloof

Jacques Broodryk (Afrikaans)

AfriForum het die dringende ingryping van luitenant-generaal Puleng Dimpane, waarnemende nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), geëis ná herhaalde gewapende konfrontasies tussen vermeende onwettige mynbougroepe in die Schoemanskloof-omgewing in Mpumalanga. Die burgerregteorganisasie het terugvoer van Dimpane versoek oor die SAPD se planne om weer beheer oor dié brandpunt van onwettige mynbou te verkry en die kriminele netwerke wat daar bedrywig is, af te takel.

In Augustus is ses vermeende onwettige mynwerkers by Mashobote in die Ngodwana-polisiëringsgebied dood aangetref. Die SAPD het aangedui dat voorlopige inligting op mededinging tussen onwettige mynbougroepe gedui het. Ten spyte van daaropvolgende operasies in die gebied, het nog ’n ernstige skietvoorval op 29 September plaasgevind, gevolg deur verdere skietgevegte op 30 September. Die liggame van vermeende onwettige mynwerkers is ook langs paaie in die gebied gevind, wat tot tydelike padsluitings in Schoemanskloof gelei het.

“Dit gaan nie meer bloot oor ’n groep mense wat onwettig goud ontgin nie. Ons het te doen met georganiseerde groepe wat toegang tot outomatiese gewere het, asook genoegsame mannekrag en hulpbronne om in gewapende konfrontasies naby openbare paaie, plase en gemeenskappe betrokke te raak. Die moontlikheid dat onskuldige motoriste of inwoners in die kruisvuur kan beland, kan nie onderskat word nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

AfriForum het verskeie vrae aan die waarnemende nasionale kommissaris gerig en eis duidelikheid oor onder meer die SAPD se onmiddellike operasionele reaksie; vordering met die moordondersoeke; die rol van misdaadintelligensie en die Valke; en maatreëls om motoriste, boere en omliggende gemeenskappe te beskerm.

AfriForum wil ook weet of die polisie die groter kriminele netwerke ondersoek wat onwettige mynbou moontlik maak, insluitend die finansiers, kopers, vuurwapenverskaffers en logistieke netwerke agter die zama-zama-bedrywighede.

“Periodieke klopjagte waartydens ’n paar mynwerkers in hegtenis geneem en toerusting op beslag gelê word, bied duidelik nie ’n volhoubare oplossing nie. Indien die organiseerders, finansiers, kopers en vuurwapenverskaffers onaangeraak bly, herorganiseer hierdie groepe eenvoudig en keer hulle terug. Die SAPD moet die kriminele onderneming agter onwettige mynbou teiken, nie net die mense wat ondergronds of by die myne aangetref word nie,” sê Broodryk.

AfriForum het verder gevra of die SAPD van voorneme is om ’n volhoubare operasionele teenwoordigheid in die gebied te vestig of ’n toegewyde bevelstruktuur of taakspan sal instel en watter meetbare tydraamwerke vasgestel is om doeltreffende wetstoepassingsbeheer te herstel.

“Die voorkoms van ’n AK-47-magasyn en ammunisie behoort reeds gevaarligte te laat flikker. Die SAPD moet vasstel waar hierdie wapens vandaan kom, wie dit verskaf en of dit met ander georganiseerde misdaadbedrywighede verbind kan word. Ons kan nie wag totdat ’n onskuldige motoris, inwoner, plaaswerker of polisiebeampte doodgemaak word voordat hierdie bedreiging die reaksie kry wat dit verdien nie,” sluit Broodryk af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid