Vryburg-tak verbeter veiligheid met gemeenskapsprojekte
Die AfriForum-tak in Vryburg het gedurende Julie verskeie grassny- en skoonmaakprojekte in en om die dorp voortgesit in ’n poging om hierdie gebied op te knap en terselfdertyd veiligheidsrisiko’s te verminder.
Die tak het onder meer die ingang na Vryburg vanaf Tosca skoongesny. Hierdie gebied is geteiken om sigbaarheid vir motoriste te verbeter en die risiko te verminder dat veldbrande vanaf die buitewyke na die dorp versprei. Verder is oop stukke veld in Edwin Frylinckstraat skoongemaak en die gras op twee leë erwe gesny. Die tak het gedurende Julie meer as 1,5 hektaar se gras gesny.
“Lang, ongesnyde gras hou ’n ernstige risiko vir gemeenskappe in, aangesien dit sigbaarheid belemmer, die gevaar van veldbrande verhoog en deur misdadigers as wegkruipplek of ontsnaproete gebruik kan word. AfriForum beskou die instandhouding van openbare ruimtes daarom nie bloot as ’n verfraaiingsprojek nie, maar as ’n belangrike deel van misdaadvoorkoming en gemeenskapsveiligheid,” sê JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
Volgens Nel is die betrokkenheid van die plaaslike sakegemeenskap en inwoners noodsaaklik om projekte van hierdie aard volhoubaar voort te sit.
“Die vermoë van AfriForum se buurtspan om veiligheid in Vryburg te bevorder, hang grootliks van gemeenskapsbetrokkenheid af. Hoe meer mense hul tyd, kundigheid en hulpbronne beskikbaar stel, hoe groter is die buurtspan se vermoë om sigbare veiligheidsprojekte aan te pak en vinnig op plaaslike probleme te reageer,” sê Nel.
Die Vryburg-tak beplan verder verskeie projekte, waaronder die aanbring van nuwe stoptekens op strategiese plekke in die dorp. Hierdie projek het ten doel om padveiligheid te verbeter. Klik hier om ’n bydra tot AfriForum se Vryburg-buurtspan te maak.



