AfriForum-buurtspan reis etlike kilometers om Oudtshoorn se parke op te knap
AfriForum se Knysna-buurtspan het verlede week vir etlike dae lank in Oudtshoorn gewerk om verskeie openbare parke op te knap. Hoewel dié buurtspan aan die kus in Knysna gebaseer is, ondersteun hulle gemeenskappe regoor die Tuinroete waar hulp benodig word.
Die span het hul werksaamhede by die park in Draaistraat afgeskop, waar gras en onkruid met bossiekappers gesny en struike netjies gesnoei is. Daarna het die span na die park in Middelstraat gegaan, waar hulle gras gesny en bome se nuwe uitloopsels verwyder het om die park toeganklik te maak vir besoekers.
In die park in Keyterstraat het die span boomtakke gesnoei wat die spreiligte versper het. Hierdie werk sal help om die park saans beter te belig en sodoende ’n veiliger omgewing vir inwoners te skep. Die drie dae se werksaamhede is afgesluit met onderhoudswerk in die park in Tautestraat, waar gras en bossies ook getakel is.
Die span het oor die paar dae se werk sowat 6 500 vierkante meter se gras gesny en talle boomtakke gesnoei om dié openbare ruimtes netjies en bruikbaar te hou.



“Openbare ruimtes behoort veilige en netjiese plekke te wees waar gesinne en kinders met gemoedsrus kan saamkom. Wanneer owerhede versuim om basiese instandhouding te doen, tree AfriForum en ons vrywilligers in om self ’n verskil te maak. Ons gaan nie toekyk hoe gemeenskappe agteruitgaan nie. Ons neem verantwoordelikheid en bou aan ’n omgewing waarop inwoners trots kan wees,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
AfriForum se Oudtshoorn-tak beplan om ook sy eie buurtspan op die been bring om die gemeenskap volhoubaar te dien. Só ’n span sal die tak in staat stel om gereeld onderhoudswerk aan openbare ruimtes te doen en vinnig op die gemeenskap se behoeftes te reageer. Sluit vandag nog by AfriForum se Oudtshoorn-tak aan en help om dié buurtspan ’n werklikheid te maak. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel vir Erasmus by 081 216 9602.



