AfriForum se Hopefield-plaaswag spring in om by ongelukstoneel te help
Deur Marthinus Koekemoer
AfriForum se Hopefield-plaaswag het gister (Sondag 27 September) in die vroeë oggendure (ongeveer 03:00) ingespring om te help op die toneel van ’n voertuigongeluk wat net buite die dorp op die R45 plaasgevind het. Dit het gevolg ná ’n AfriForum-lid die ongeluk op die radionetwerk aangemeld het.

Tania Geldenhuys, ’n plaaslike AfriForum-plaaswaglid, sê die buurtwag was binne minute op die toneel om te help. “Die ongeluk het newens een van ons lede se woning gebeur. Toe sy hoor hoe die ongeluk gebeur, het sy die ongeluk aangemeld waarna ek en vyf ander lede na die toneel is. Opleiding en inoefening is uiters belangrik sodat ’n mens reeds voor jy by die toneel kom weet wat jy moet doen en nie daar staan en tyd mors nie,” verduidelik Geldenhuys.
Op die toneel het die plaaswagspan ’n voertuig op sy dak aangetref. Drie persone was reeds buite die voertuig, terwyl een insittende steeds vasgekeer was binne die voertuig. Die opgeleide AfriForum-noodhulpbeampte het dadelik aandag aan die voertuig se insittendes gegee, terwyl die res van die span posisies ingeneem het om die toneel te beveilig. Kegels is onder meer uitgepak om verkeer om die ongelukstoneel te reguleer.

“Ons fokus op die toneel is om almal se veiligheid te verseker en enige verdere ongelukke te verhoed. In hierdie geval het ons dit gedoen voor die polisie en ander nooddienste op die toneel was en verder saam met hulle gewerk toe hulle opgedaag het,” verduidelik Geldenhuys.
Twee van die voertuig se insittendes is na die Vredenburg-hospitaal vir verdere behandeling geneem met die ander twee wat na die polisiekantoor geneem is. AfriForum se plaaswaglede was tot omtrent 04:15 op die toneel.
“Wat baie mense nie besef nie, is dat ons plaaswaglede vrywilligers is en nie voltydse nooddienspersoneel nie. Hulle is gewone lede van die gemeenskap met beroepe, ondernemings, gesinne en verantwoordelikhede wat hul eie tyd opoffer om te help,” sê Geldenhuys.
“Wanneer opgeleide gemeenskapslede bereid is om hul tyd en kennis beskikbaar te stel, totdat die professionele nooddienste oorneem, kan dit help om lewens te red, verdere ongelukke te voorkom en ’n veiliger omgewing vir almal te skep. Daarom is sterk buurt- en plaaswagte so belangrik. Ons wil graag ander gemeenskapslede aanmoedig om ook betrokke te raak by die veiligheidsinisiatiewe in hul eie gemeenskap.”
Blurb: Ses lede van AfriForum se Hopefield-plaaswag het gister binne minute by ’n ongelukstoneel opgedaag om noodhulp aan beseerdes te bied en die toneel te beveilig. Dié vrywilligers het hul ingeoefende veiligheidsplan in werking gestel en gehelp om beseerdes te behandel totdat nooddienste die toneel bereik het.



