|

Voeg daad by die woord, eis AfriForum oor landbouminister se beloftes aan Trump oor prioritisering van plaasmoorde

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)

AfriForum het vandag ’n beroep op die minister van Landbou, John Steenhuisen, gedoen om nou aan sy beloftes vir die prioritisering van plaasaanvalle gestand te doen. Steenhuisen het tydens 21 Mei se vergadering tussen president Cyril Ramaphosa en die Amerikaanse president, Donald Trump, onder meer aangevoer dat plaasaanvalle hom en sy kollegas in die polisie en justisie verontrus en dat plaasaanvalle en veediefstal ’n prioriteitsmisdaad gemaak moet word.

Video: John Steenhuisen tydens die besoek aan die Withuis op 21 Mei vanjaar.

AfriForum benadruk dat indien Steenhuisen nie dringend amptelike stappe doen om die prioritisering van plaasaanvalle te eis nie, sy stellings in die VSA sal neerkom op ernstige misleiding en wanvoorstelling.

Die burgerregteorganisasie het reeds telkens onsuksesvol vir die prioritisering van plaasaanvalle gevra. Dit is tragies dat die regering, ten spyte van jare lange druk en versoeke vir die prioritisering van plaasmoord en -aanvalle, dit herhaaldelik geweier het. Tog is prioriteitstatus verleen aan ander ernstige misdade soos renosterstropery en transitorowe.

Volgens Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, blyk dit dat die minister die politieke spel op ’n internasionale verhoog speel. “Dit is jammer dat dit ’n vernederende vergadering met die leier van die VSA geneem het vir die landbouminister om tot sy sinne te kom en uiteindelik te erken dat plaasaanvalle en -moorde tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar moet word. Dit ten spyte daarvan dat die kwessie tot nou toe geïgnoreer is.”

Intussen het AfriForum in Mei vanjaar nog terugvoer van die Valke ontvang waarin verklaar word dat dié eenheid nie plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad sal hanteer nie. “Dit staan in skrille kontras met die hantering van ander misdade. Terwyl renosterstropery as ’n prioriteitsmisdaad geag word en politieke moorde spesiale aandag geniet deur die instelling van toegewyde taakspanne, kry plaasaanvalle nie dieselfde behandeling nie. Dit is duidelik dat politici se lewens as veel meer belangrik geag word as dié van ons boere,” beklemtoon Broodryk.

Broodryk hou vol dat AfriForum sy toewyding aan die beskerming van landelike en plaasgemeenskappe voortgesit en uitgebou sal word.

“Dit is onaanvaarbaar dat die regering en Valke – ten spyte van die brutale aard en frekwensie daarvan en ondanks talle pleidooie, datavoorleggings en die lewering van bewyse – steeds weier om plaasaanvalle te prioritiseer. Dit is tyd vir regeringslui om die misbruik van boere se lyding vir politieke gewin te stop en beslis, deursigtig en duidelik op te tree om landelike gebiede te beveilig en verdere lewensverlies te verhoed,” sluit Broodryk af.

Nota aan joernaliste

Volledige aanhaling van John Steenhuisen tydens sy besoek aan die Withuis op 21 Mei: “As the Minister of Agriculture it is something that I am particularly exercised with my colleagues at Police and my colleagues in the justice cluster to stop, making farm attacks and stock theft a priority crime. And it affects all farmers in South Africa.”

Soortgelyke plasings