|

AfriForum eis samewerking met privaat sektor namate bek-en-klouseer handuit ruk weens sentralisering

Lambert de Klerk (Afrikaans)

As ’n burgerregteorganisasie doen AfriForum ’n beroep op die regering om dringend met die privaat sektor saam te werk om die skade te beperk wat die voortgesette verspreiding van bek-en-klouseer aan boere, voerkrale, veilings, slagpale, werksgeleenthede en voedselsekerheid berokken. Dit is nie meer ’n beperkte landbouprobleem nie, maar ’n ekonomiese bedreiging van nasionale belang. Tog bly die regering se reaksie stadig, gesentraliseerd en onvoldoende om tred te hou met die tempo waarteen die siekte versprei.

“Bek-en-klouseer versprei vinnig deur diere se bewegings en kontak tussen kuddes. In ’n nasionale uitbreking soos hierdie is spoed en dekkingsvermoë alles. Die ongemaklike waarheid is egter dat Suid-Afrika se huidige reaksiemodel rondom staatsbeheer gebou is. Daar daardie model is tans besig om te faal. Wanneer die uitrol van inentings vertraag word, vermeerder uitbrekings; waar afdwinging swak is, word beperkings op beweging betekenisloos; en waar die reaksie beperk is tot een sentrale kanaal, word die stelsel ’n bottelnek eerder as ’n oplossing,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum.

AfriForum is toenemend bekommerd dat die regering so gefokus is op absolute beheer dat hulle bereid is om die hele landbousektor op te offer om dit te behou. Daar word van boere verwag om streng reëls en beperkings op beweging na te kom, maar hulle kry nie die vinnige, gekoördineerde ondersteuning wat nodig is om die uitbreking te beperk nie. Die gevolg is toenemende ekonomiese skade, onsekerheid in die mark, ontwrigtings in die voorsieningsketting en verdere verlies aan vertroue in die staat se vermoë om Suid-Afrika se landbousektor te beskerm.

AfriForum verwerp die staat se monopolie op inentings en die idee dat die enigste ander opsie onbeheerde private inentings is. Die regering kan dadelik sy kapasiteit uitbrei sonder om biosekuriteit in die gedrang te stel deur ’n streng en beheerde vennootskapsmodel in werking te stel. Die regering moet steeds in beheer van standaarde, beleid en afdwinging bly, maar dit moet dringend die kapasiteit van die privaat sektor ontsluit onder duidelike reëls, magtigings en naspeurbaarheidsvereistes.

“Private netwerke van veeartse, gespesialiseerde veeartse en geakkrediteerde dieregesondheidtsegnici kan die spoed waarteen inentings toegedien word aansienlik verhoog, mits hulle toegelaat word om onder die staat se instruksies en toesig op te tree. Die privaat sektor kan ook help met logistieke en rekordhoudingstelsels, wat noodsaaklik is tydens ’n hoëdruk-inentingsveldtog. Wettige en wetenskaplike uitvoerbaarheid, sowel as plaaslike farmaseutiese en vervaardigingskapasiteit moet ook geaktiveer word om voorrade te ondersteun, eerder as om die sektor kwesbaar te laat vir vertragings en tekorte,” sê De Klerk.

AfriForum voer aan dat dít die mees praktiese benadering is om dié krisis suksesvol die hoof te bied. Dit kan geïmplementeer word met streng voorsorgmaatreëls, insluitend goedgekeurde entstowwe, beheerde bondelbestuur, geakkrediteerde inentingsbeamptes, verpligte rapportering aan ’n sentrale register, ouditering en naspeurbare identifisering van diere met werklike gevolge vir nie-nakoming.

“Bek-en-klouseer versprei omdat die regering probeer om ’n nasionale uitbreking met ’n gesentraliseerde stelsel te beveg. Dié stelsel kan nie resultate vinnig genoeg lewer nie en handhawingskapasiteit is reeds te dun gestrek. Die staat moet beheer oor standaarde en toesig behou, terwyl dit dringend die privaat sektor se vervaardiging en veeartsenykundige kapasiteit onder streng magtiging ontsluit. Elke vertraging vererger die uitbreking, verhoog ekonomiese verliese en straf verantwoordelike boere vir die staat se onvermoë om met die nodige dringendheid op te tree,” voeg De Klerk by.

AfriForum doen daarom ’n beroep op die departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling om ’n nasionale noodreaksieplan met meetbare teikens en sperdatums te publiseer; dringend private netwerke van veeartse te akkrediteer om onder staatstoesig in te ent; entstofvoorraad uit te brei deur beheerde verkryging en wettige produksiekapasiteit; beperkings op beweging konsekwent af te dwing; en ’n geloofwaardige naspeurbaarheids- en rapporteringstelsel te implementeer wat vertroue herstel en Suid-Afrika in staat stel om die uitbreking behoorlik te beperk.

AfriForum en die landbou-organisasie Saai het intussen ’n hulplyn vir boere oopgemaak wat emosioneel en finansieel ly as gevolg van die bek-en-klouseer-krisis. ’n Landwye netwerk van 200 traumavrywilligers en professionele beraders is gereed om boere te ondersteun. Kontak die AfriForum-trauma-eenheid by 064 870 8312 of trauma@afriforum.co.za om hulp te kry.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf