|

Veediefstalstatistiek gee skewe beeld van werklike omvang van probleem

Klankgreep: Hennie Bekker (Afrikaans)
Klankgreep: Hennie Bekker (Engels)

AfriForum bevraagteken die akkuraatheid van die veediefstalstatistiek wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) onlangs vir die derde kwartaal van 2025/2026 vrygestel het. Die burgerregteorganisasie voer aan dat die statistiek nie die volle omvang van boere se belewenis weerspieël nie en saam met die bek-en-klouseer (BEK)-pandemie ’n volskaalse ramp in die landboubedryf tot gevolg het. AfriForum dring daarom aan op die versterking van veediefstaleenhede en meer doeltreffende implementering van antikorrupsie-meganismes.

Luidens die SAPS se jongste misdaadstatistiek wat in Februarie bekendgestel is, is ’n daling van 9,6% aangeteken in die aantal veediefstalsake wat van Oktober tot Desember 2025 aangemeld is teenoor die ooreenstemmende tydperk in 2024.

Indien die statistiek van die tweede en derde kwartaal van 2025/2026 egter met mekaar vergelyk word, toon dit ’n toename in die aantal aangemelde veediefstalsake. Vir die tydperk vanaf Julie tot September 2025 is ’n totaal van 6 220 sake landwyd aangemeld, teenoor 6 295 sake vir die drie maande vanaf Oktober tot Desember 2025. Dit kom neer op ’n toename van 75 veediefstalsake, oftewel ’n styging van 1,2%.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld, lyk dit op die oog af dalk asof die voorkoms van veediefstal afneem, maar indien dié opeenvolgende kwartale met mekaar vergelyk word, is die prentjie anders as wat die SAPD verkondig. Hy hou vol dat die skynbare afname in veediefstal nie noodwendig die werklikheid weerspieël nie en dat boere se groeiende wantroue in die SAPD se veediefstaleenhede tot laer aanmelding van dié misdaad lei.

Veediefstaleenhede: Die tekort aan hulpbronne en die voorkoms van korrupsie

“Groot getalle vee word steeds gesteel en onregmatig verkoop of geslag. Dit word egter telkens nie meer by die veediefstaleenhede aangemeld nie omdat boere, weens ernstige hulpbrontekorte en bewerings van korrupsie in dié eenhede, vertroue in die waarde van aanmelding en die suksesvolle oplos en vervolging van dié misdade verloor het,” verduidelik Bekker.

Die betrokkenheid van SAPD-lede by veediefstal wek verdere kommer, meen Bekker. In een geval is konstabel Siyabonga Cindi van die Standerton-veediefstaleenheid in Augustus 2025 gearresteer en het op 2 September op aanklag van veediefstal ter waarde van nagenoeg R450 000 in die hof verskyn. Hy verskyn later vandeesweek (Donderdag 12 Maart) weer in die hof ná hy by nog voorvalle van veediefstal betrek is. Cindi bly intussen in aanhouding, maar sal na verwagting tydens dié week se hofverskyning aansoek doen om borg.

Benewens beweerde betrokkenheid van polisielede by veediefstal, word die doeltreffendheid van veediefstaleenhede ernstig gekniehalter deur ’n tekort aan voertuie en die reuse-gebiede wat eenhede bedien. Dit lei volgens Bekker daartoe dat veediefstaleenhede soms nie misdaadtonele betyds kan besoek nie, wat ook die bewaring van ’n misdaadtoneel, die insameling van bewysstukke en uiteindelike vervolging belemmer.

Bekker benadruk dat ’n massaslagting van skape buite Standerton op 28 Februarie ’n bewys is van hoe die tekort aan hulpbronne in veediefstaleenhede die hantering van dié misdaad kortwiek. In dié geval het ’n boer meer as 40 skape verloor. Behalwe vir vier skape wat gesteel is, was die res van dié kudde geslag en op die toneel agtergelaat. Die plaaslike veediefstaleenheid op Standerton se enigste beskikbare voertuig was in daardie stadium reeds betrokke by ’n ander misdaadtoneel naby Balfour.  

Dié hulpbrontekort het die boer genoodsaak om self die massas vleis op die toneel te verskuif. Bekker het die toneel later self besoek en ’n tang, wat waarskynlik in die misdaad gebruik is, in die gras opgemerk. Die toneel was egter in daardie stadium geheel en al versteur, wat die insameling van bewysstukke nadelig beïnvloed. AfriForum het egter die naburige veediefstaleenheid op Bethal genader om die beskikbare bewyse in te samel.

Samewerking lewer resultate

Volgens Bekker bewys beide bogenoemde gevalle in die Standerton-veediefstaleenheid se gebied op die kritieke uitdagings wat boere elke dag ten opsigte van veediefstal beleef. “Dit wys wel ook dat goeie samewerking tussen boere, organisasies soos AfriForum en landbou-organisasies en die SAPD se veediefstaleenhede oplossings kán bewerkstellig,” benadruk Bekker.

In een onlangse geval wat in Februarie buite Bethal plaasgevind het, het goeie samewerking tussen die SAPD se Bethal-veediefstaleenheid, die Bethal-gemeenskapspolisiëringsforum en AfriForum gelei tot die arrestasie van vier vermeende veediewe, die terugvind van 11 gesteelde skape en die konfiskering van ’n voertuig wat in die pleeg van ’n misdaad gebruik is.

AfriForum het in Junie verlede jaar begin met die aanbied van opleiding oor die bekamping van veediefstal. Dit is saamgestel om boere en veiligheidstrukture in landelike gemeenskappe te bemagtig met inligting oor veediefstalle en dek kwessies soos die inspeksie van veehanteringsdokumente en die lees van brandmerke. Verskeie suksesse het reeds na aanleiding van dié opleiding gevolg, insluitende die geval waar nagenoeg R900 000 se gesteelde vee, danksy AfriForum, in die Hendrina-omgewing in Mpumalanga teruggevind is.

“Dié suksesse wys dat ons saam wel ’n positiewe verskil kan maak, maar dat die SAPD meer sal moet doen om veediefstaleenhede te bemagtig. Hulpbronne moet uitgebrei en korrupsie uitgeroei word om sodoende weer die publiek se vertroue te herstel. Eers wanneer dié probleme uit die weggeruim is, sal ’n werklike afname in veediefstal gevalle opgemerk word,” sluit Bekker af.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid