| | |

Rolspelers gee eerste tree om Genadendal-gemeenskap se veiligheid te verbeter

AfriForum, Kaapse Forum en die TRANCRAA-Transformasiekomitee van die Genadendal-gemeenskap het in Februarie hande gevat om die gemeenskap se veiligheid oor die langtermyn te verbeter deur ’n gesamentlike omvattende veiligheidswaardering wat deur AfriForum se gemeenskapsveiligheidskundiges gefasiliteer is. Dit is die eerste tree in die proses om gebeurlikheidsplanne en die gemeenskapsvermoë om die planne self uit te kan voer te vestig en het natuurrampe, soos brande en vloede, en misdaad ingesluit.

Die Genadendal-transformasiekomitee is gevestig om te verseker dat die eienaarskap van die gemeenskap se grond, wat tans deur die staat in trust gehou word, na die gemeenskap self oorgedra word ingevolge Wet 94 van 1998 op die Transformasie van Sekere Landelike Gebiede (beter bekend as die TRANCRAA-wet). Die Genadendal-gemeenskap staar tans veral uitdagings met dwelmverwantemisdade en onwettige grondbesetting in die gesig.

“Genadendal, ook onder die gemeenskap bekend as Plaas 39, is opgedeel in agt sektore: landbou, onderdemings, onderwys en opleiding, gesondheid en welsyn, sport en kultuur, geloof en beseerde groepe, jeug en laastens die inwonersvereniging, waaronder veiligheid en infrastruktuur val. Geen van die gemeenskapsektore kan goed funksioneer as veiligheid nie verseker kan word nie. Ons is dankbaar en positief dat ons met ’n gesamentlike proses kon begin om ons gemeenskap se eie veiligheidsvermoë te versterk om ’n beter toekoms vir ons en ons kinders moontlik te maak,” sê George Juries, ondervoorsitter van die Transformasiekomitee.

“Die vestiging van goeie verhoudings en samewerking tussen kultuurgemeenskappe en die versterking van gemeenskapselfstandigheid is noodsaaklik vir die voorspoedige en vreedsame naasbestaan van kultuurgemeenskappe in die land. Hierdie gesamentlike inisiatief is ’n voorbeeld van hoe volhoubare oplossings vir gemeenskapsuitdagings op voetsoolvlak gevind kan word deur samewerking op grond van wedersydse erkenning en respek wat fokus op praktiese uitkomste,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

Volgens Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktiviering by Kaapse Forum, is die proses ’n gemeenskapsgedrewe inisiatief wat daarop gemik is om waardigheid, aanspreeklikheid en plaaslike vermoë te herstel en te versterk. Dit dien as nog ’n voorbeeld waar burgerlike rolspelers hande vat tot voordeel van gemeenskappe buite die partypolitieke bestel. “Ons is almal deel van ’n gemeenskap van gemeenskappe en deur saam te werk kan ons as gemeenskapbouers ’n daadwerklike impak op voetsoolvlak maak,” sluit Pieters af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf