|

NERSA swyg stééds oor redes vir Eskom-verhogings

Klankgreep: Dalena Beyers (Afrikaans)

Klankgreep: Dalena Beyers (Engels)


AfriForum eis in ’n brief wat vandag aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) gestuur is, dat die reguleerder die volledige redes vir sy aangepaste besluit oor Eskom se sesde veeljarige tariefbepalingsaansoek (MYPD6) binne vyf dae moet bekendmaak. Die burgerregteorganisasie waarsku dat die reguleerder se stilswye oor die redes vir sy goedkeuring van Eskom se herbepaalde tarriefverhogings om meer as R54 miljard se bykomende inkomste te verseker, deursigtigheid en aanspreeklikheid vir geloofwaardige en verantwoordelike energieregulering in die land in die gedrang stel.

NERSA het reeds op 8 Februarie vanjaar sy besluit rakende die goedkeuring van ’n 8,76%-tariefverhoging vir die 2026/2027-boekjaar en ’n verhoging van 8,83% vir die 2027/2028-boekjaar aangekondig, maar steeds nie die volledige redes vir dié besluit vrygestel nie.

Volgens Dalena Beyers, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum, is die hersiene besluit geneem ná ’n beperkte openbaredeelnameproses in Januarie afgehandel is. Die Hooggeregshof in Pretoria het in Desember in AfriForum se guns beslis en bepaal dat Eskom en NERSA se skikking, wat agter geslote deure bereik is met die doel om ’n berekeningsfout ná die aanvanklike tariefverhogings reg te stel, sonder behoorlike openbare deelname plaasgevind het. Die openbaredeelnameproses wat in Januarie afgesluit is, was derhalwe daarop gemik om te voldoen aan die voorvereistes van die Wet op die Nasionale Energiereguleerder en die Wet op Energieregulering.

Regter Jan Swanepoel het in sy uitspraak in Desember onder meer aangevoer dat besluite wat in die geheim en sonder die publiek se kennisname geneem is, indruis teen die statutêre raamwerk en die norme van die Grondwet. Hy het voorts aangevoer dat die afwesigheid van ’n verduideliking oor hoe daar op die skikkingsbedrag van R54 miljard besluit is, ’n ongemaklike gevoel laat wat die skikking weinig meer is as ’n “duimsuig-bedrag”.

“Ondanks NERSA se beloftes ná die aankondiging van die hersiene verhogings dat volledige besonderhede oor die redes vir die besluit gepubliseer sal word, is dit ná bykans twee maande steeds nie vrygestel nie. Die reguleerder se volgehoue stilswye oor die besluit, herinner sterk aan dit waarteen regter Swanepoel in sy uitspraak gewaarsku het rakende die twyfelagtige ooreenkoms wat NERSA en Eskom in die geheim aangegaan het,” verduidelik Beyers. “Dit laat daarom ernstige vrae ontstaan oor die deursigtigheid en rasionaliteit van die tariefbepalingsproses.”

Beyers voer voorts aan dat AfriForum besorg is oor NERSA se algehele hantering van Eskom se aansoek en benadruk dat regulatoriese besluite nie bloot as ’n reeks losstaande berekenings hanteer mag word nie. “Hoewel die Desember-hofsaak daarop gemik was om die regulatoriese batebasiskomponent van die aansoek te herbereken, was die hoop tog dat ’n regverdige en verantwoordelike reguleerder hierdie verhoging in koste sou gebruik om die totale berekening te hersien. Aspekte soos die geweegde gemiddelde koste van kapitaal (GGKK),wat ’n vermenigvuldigende effek op elektrisiteitspryse het is afhanklik van sowel ’n berekening as ’n arbitrêre besluit van NERSA. Enige afwaartse aanpassings sou die verbruiker baie geld kon spaar en is al voorheen deur NERSA toegepas. Sonder redes vir NERSA se besluit, is dit egter onmoontlik om die rasionaliteit van dié besluit sowel as Eskom se nuwe kleinhandeltariefplan te evalueer.”

“Elektrisiteitspryse het ’n direkte impak op huishoudings, ondernemings en die breër ekonomie. Daarom behoort besluite oor Eskom se toelaatbare inkomste volledig gemotiveer en naspeurbaar wees en sonder verwyl beskikbaar gestel te word,” sluit sy af.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik