Uitspraak voorbehou in saak oor R54 miljard-skikking
Die saak wat handel oor ’n skikking tussen Eskom en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa), wat verbruikers nagenoeg R54 miljard uit die sak sou jaag, is gister (10 Desember) in die Pretoriase Hooggeregshof aangehoor. AfriForum is gekant teen hierdie skikking wat poog om ’n fout in Eskom se toelaatbare inkomstebepaling reg te stel sonder die voorgestelde ondersoeke, behoorlike openbare deelname of terugverwysing na Nersa. Uitspraak is voorbehou.
AfriForum het in Oktober vanjaar by hierdie saak ingegryp ná Eskom se oorspronklike hofaansoek vir ’n hersiening van Nersa se besluit rakende Eskom se veeljarige tariefbepalingsaansoek skielik in ’n skikkingsooreenkoms verander het. Dié skikkingsooreenkoms sou Eskom toelaat om kragtariewe jaarliks met byna 9% te verhoog om sodoende ’n bykomende R54 miljard van reeds oorbelaste verbruikers te verhaal.
AfriForum het die boosheid van Nersa se redenasie in die hof uiteengesit en uitgewys dat Nersa veral hieruit voordeel sou trek. In hul aanhangsel tot hul antwoordende verklaring het Nersa selfs gesê dat ’n voordeel van die skikking met Eskom sal wees dat die ooreenkoms bindend word en dat dit die gewenste uitkoms aan Eskom sal gee sonder dat die besonderhede in die ope hof blootgelê sal word en Nersa onder die vergrootglas sal plaas. Dit blyk dat Nersa glo die skikking sal ook die moontlikheid beperk vir die hof om ’n bevel uit te reik wat Nersa se regulatoriese magte kan herdefinieer.
“Hierdie redenasie van Nersa wys dat die reguleerder nie meer beheer oor sy sektor het nie. Om te sê dat jy buite die hof wil skik omdat dit Nersa teen verdere blootstelling sal beskerm en ’n regverdige en billike bevel sal verhoed, is skokkend. Nersa kan nie meer gesien word as ’n reguleerder wat in die belang van die verbruiker wil optree nie, maar eerder in hul eie belang en tot voordeel van Eskom,” sê Morné Mostert, bestuurder vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.
AfriForum het verder aangevoer dat hierdie saak ’n kritieke kwessie opper: of twee staatsorgane aan teenoorgestelde kante in ’n geregtelike hersiening toegelaat moet word om te skik op so wyse dat oorsig van ’n hof vermy kan word, en om betekenisvolle openbare insette te omseil. Volgens AfriForum sal só ’n skikking ’n gevaarlike presedent skep wat staatsentiteite sal toelaat om aanspreeklikheid vry te spring.
Indien AfriForum se hofuitdaging suksesvol is, sal Nersa se oorspronklike besluit terugverwys word na Nersa vir heroorweging, tesame met ’n geleentheid vir behoorlike openbare deelname.
Sou die skikking ’n hofbevel word, sal die R54 miljoen soos volg ingefaseer word:
- R12 000 miljoen sal gedurende die 2026/27 finansiële jaar verhaal word, wat ’n toename van 8.67% tot gevolg sal hê in plaas van die 5.36% wat in Januarie 2025 goedgekeur is.
- R23 013 sal gedurende die 2027/28 finansiële jaar verhaal word, wat ’n verhoging van 8.85% tot gevolg sal hê in plaas van die 6.19% wat in Januarie 2025 goedgekeur is.
“Eskom en Nersa kan nie in die geheim besluite onderhandel wat die publiek met miljarde in kostes sal belas sonder betekenisvolle insette nie – tog voer hulle arrogant aan dat geen verdere openbare deelname nodig is nie. Aangesien Nersa, Eskom en munisipaliteite se skoothondjie geword het, sal AfriForum ’n waaksame waghond bly wat aanspreeklikheid vir alle Suid-Afrikaners verseker,” sluit Mostert af.



