|

Uitspraak voorbehou in AfriForum-hofsaak oor implementering van hofbevel in Ngwathe-saak

Klankgreep: Alta Pretorius (Afrikaans)

Klankgreep: Alta Pretorius (Engels)


Regter Ingrid Opperman het uitspraak voorbehou in AfriForum se artikel 18(3)-aansoek wat vandag in die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein voorgekom het. AfriForum poog met dié aansoek om die hofbevel wat op 20 Junie verlede jaar in die burgerregteorganisasie se guns gelewer is, af te dwing te midde van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se appèlproses oor dié bevel.

Die hof het in Junie 2025 beveel dat die Ngwathe-munisipaliteit se raad moet ontbind en die provinsiale regering by die munisipaliteit moet ingryp. Sedertdien is die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl in dié saak in Augustus 2025 van die hand gewys. Die munisipaliteit het hom daarna tot die Hoogste Hof van Appèl gewend, maar hul appèlaansoek daar is ook in Oktober 2025 van die hand gewys. In dié uitspraak het die hof beslis daar is “geen redelike vooruitsig van sukses in ’n appèl nie en geen ander oortuigende rede waarom ’n appèl aangehoor behoort te word nie”. Intussen het die munisipaliteit aangedui dat dit die uitspraak in die Konstitusionele Hof gaan appelleer.

Kragtens regter J.P. Daffue se Junie 2025-hofuitspraak moet die Vrystaatse premier, die provinsie se uitvoerende raad en die ander betrokke respondente in die saak binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet:

  • ’n herstelplan implementeer om dienslewering in die munisipaliteit te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom;
  • die Ngwathe- munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel totdat ’n nuwe munisipale raad verkies kan word;
  • elke drie maande onder eed aan die hof verslag doen oor die vordering wat in die bestuur van die munisipaliteit gedoen word; en
  • ’n tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe goedkeur wat uitvoering sal gee aan die herstelplan.

Daffue het ook beveel dat die Ngwathe-munisipaliteit tesame met agt ander respondente in die saak, waaronder die premier, AfriForum se regskoste moet betaal.

“Terwyl die munisipaliteit hulle besig hou met sinnelose appèlle wat die inwoners se geld verkwis, gaan dieselfde inwoners die afgelope weke weer gebuk gegaan het onder die las van krag- en wateronderbrekings,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.  Pretorius is optimisties dat regter Opperman sal beslis in die guns van inwoners wat bitterlik ly onder die wanbestuur van die munisipaliteit en die bevel nou sal afdwing.

Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, hou op sy beurt vol dat die gemeenskap hoopvol is dat die provinsie nou, ongeag die hofuitspraak, ferm sal opgetree en inwoners se regte in ag sal neem. “Al wat ons vra, is om ’n goed-funksionerende munisipaliteit te hê waar die nodige dienste aan alle inwoners gelewer sal word. Ons wil graag met die munisipaliteit hande vat om ons dorpe te verbeter, maar tans word ons hand weg geklap,” sluit Burger af.

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk om plaaslike regering verantwoordbaar te hou. Kontak Burger by 082 653 4281 om by AfriForum se Parys-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik