#OnsDorp: AfriForum-tak tel vullis op in Potchefstroom
Die AfriForum-tak in Potchefstroom het op 25 Oktober ’n projek gehad waar hulle vullis opgetel het aan weerskante van Govan Mbekilaan, tussen Aarbeilaan en Viljoenstraat, wat ongeveer ’n kilometer is. Daar het 15 mense, waarvan vier kinders was, 39 sakke vullis opgetel en na ’n herwinningsplek weggery. Hierdie aksie was deel van AfriForum se #OnsDorp-maand, waar takke projekte aanpak om hul dorpe te verbeter.
Volgens Alta Pretorius, distrikskoördineerder van AfriForum in die Mooirivier, was dit baie harde werk, want die son was warm. Wat die werk verder bemoeilik het, is die feit dat die gras aan weerskante van die pad nie kort gesny is nie. Dit maak dit vir die morsjorse ook makliker om hulle vullis sommer in die lang gras weg te gooi.
“Ek wil ’n beroep op inwoners doen om nie hul vullis op onwettige plekke te gooi nie. Die feit dat die munisipaliteit nie die dorp netjies hou nie, beteken nie dat ons as inwoners daarby moet inval nie. Die AfriForum-tak in Potchefstroom beplan om binnekort ’n buurtspan op die been te bring wat sal kan aanvul waar die munisipaliteit tekortskiet. Ons wil ook graag met ’n herwinningsprojek begin wat die omgewing ter wille sal wees,” sluit Pretorius af.
Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing skoon en veilig te hou. Kontak Douglas Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.




