AfriForum doen ’n beroep op eenheid tussen amakhosi en izinduna en vra premier om dringend in te gryp
AfriForum doen ’n dringende beroep op amakhosi (senior tradisionele leiers) en izinduna (tradisionele leiers) in KwaZulu-Natal om goeie verhoudinge en samewerking met mekaar te handhaaf tot voordeel van die gemeenskappe wat hulle dien en nie toe te laat dat politici en amptenare verdeling tussen hulle veroorsaak of onregmatig teen leiers optree nie. Dit volg op die brief wat AfriForum op 11 Februarie aan Thami Ntuli, die premier van KwaZulu-Natal, geskryf het nadat gemeenskapslede van die Mpungose Tradisionele Gemeenskap ingelig is dat die tradisionele leiers ndunankulu M.T. Mpungose en induna M.S. Mahaye as leiers verwyder is sonder dat daar aan wetsbepalings voldoen is.
AfriForum het die premier dringend versoek om die veiligheid van die leiers te verseker om verdere onregmatige en onwettige optrede teen dié en ander leiers te voorkom en laastens om ’n omvattende ondersoek van stapel te stuur oor die verwydering van tradisionele leiers en die groeiende verdeeldheid tussen amakhosi en izinduna. Die brief is aan die premier gestuur nadat ’n brief aan Thami Biyela, ’n waarnemende direkteur van tradisionele sake binne die KwaZulu-Natalse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, onbeantwoord gelaat is, ten spyte daarvan dat die brief uitgelig het dat ndunankulu Mpungose met ’n vuurwapen gedreig is.
Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, is dit onrusbarend dat wetsbepalings nie nagekom word nie en dat die lewens van tradisionele leiers daardeur bedreig word. “Onbehoorlike inmenging wat die verhoudings tussen amakhosi en izinduna vertroebel en tradisionele leierskapstrukture verswak hou ernstige negatiewe gevolge vir die welstand van voetsoolvlakgemeenskappe in. Dit benadeel die gesonde funksionering en voortbestaan van kulturele leierskapstrukture en kulturele ordes en daarom die voortbestaan van kultuurgemeenskappe – en in dié geval, Zoeloe-gemeenskappe in die besonder. Premier Ntuli moet dringend ingryp ter wille van die veiligheid van tradisionele leiers en die welstand van die gemeenskappe wat hulle dien.”
AfriForum het sedert 2017 ’n goeie verhouding met die Mpungose Tradisionele Gemeenskap in die Nkandla-gebied en spesifiek die gemeenskap van Nkungumathe. Hierdie verhouding is gevestig toe AfriForum die gemeenskap bygestaan het om ’n hofbevel te verkry dat die Kuba Sekondêre Skool in die gemeenskap gebou moet word soos onderneem deur die provinsiale Departement van Onderwys.



