|

Tradisionele leier met vuurwapen gedreig, AfriForum eis antwoorde

Klankgreep: Barend Uys (Afrikaans)
Klankgreep: Barend Uys (Engels)

AfriForum eis antwoorde van ’n waarnemende direkteur van tradisionele sake binne die KwaZulu-Natalse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (KZN-DSRTS) na aanleiding van optrede teen twee tradisionele leiers van die Mpungose Tradisionele Gemeenskap naby Nkandla. AfriForum het in ’n dringende brief aan Thami Biyela onder meer gevra dat spesifieke inligting oor aanklagtes teen die tradisionele leiers verskaf word en vir bevestiging dat induna Mahaye en ndunankulu Mpungose nie geskors is nie.

Dit volg op ’n voorval waar ndunankulu Mpungose op 21 Januarie by die tradisionele raadskantore met ’n vuurwapen gedreig is. Daar is ook gerugte versprei binne die Mpungose tradisionele gemeenskap dat die tradisionele leiers geskors is – dit terwyl die tradisionele leiers nie daarvan kennis dra nie. Twee verdagtes is intussen gearresteer in verband met die rig van die vuurwapen op Mpungose. Hulle is egter op Maandag, 26 Januarie, op borgtog van R2 500 elk vrygelaat.

Induna Mahaye en ndunankulu Mpungose het in April 2025 briewe van die KZN-DSRTS ontvang wat vae bewerings teen hulle uitgestippel het. B.D. Ndwandwe en Assosiate het namens die tradisionele leiers op die briewe gereageer. Daar is destyds geen antwoord ontvang nie, en die leiers was van mening dat die saak daarmee afgehandel is. Die optrede teen die leiers het egter tot hul skok herleef met ’n oproep van Biyela op Sondag, 25 Januarie. AfriForum het in 2025 oor beweerde onregmatige optrede teen izinduna aan premier Thami Ntuli geskryf.

Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, is dit duidelik dat daar ernstige prosedurele en vertroulikheidsoortredings binne die KZN-DSRTS plaasvind en dat onredelike en onregmatige administratiewe stappe teen die leiers gedoen word.

“Die voortgesette onredelike en onregverdige optrede van die departement plaas duidelik die lewens van hierdie tradisionele leiers in gevaar. Dit is moeilik om sulke gedrag van die departement te verstaan in ’n provinsie wat ly onder ’n vlaag van moorde op amakhosi (senior tradisionele leiers) en izinduna (hoofmanne) in die besonder. Mens is uiters besorg dat onverantwoordelike politieke agendas hier ter sprake is wat nie net die lewens van hierdie tradisionele leiers bedreig nie, maar ook die stabiliteit en voorspoed van die gemeenskap oor die algemeen.”

AfriForum het al jarelank ’n goeie verhouding met die Mpungose Tradisionele Gemeenskap en spesifiek die gemeenskap van Nkungumathe in die Nkandla-gebied. Hierdie verhouding is gevestig toe AfriForum Inkosi Mpungose en die gemeenskap gehelp het om ’n hofbevel te verkry dat die Kuba Sekondêre Skool in die gemeenskap gebou moet word soos onderneem deur die Provinsiale Departement van Onderwys.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik