| | |

Welkom-buurtspan wikkel om water aan inwoners te verskaf

Betroubare toegang tot skoon, lopende water is ’n basiese mensereg, maar in Welkom gaan inwoners al vir jare gebuk onder watertekorte en dit eis lank reeds sy tol. Danksy AfriForum se buurtspan is daar egter nou reeds 29 watertenks opgerig om inwoners te help terwyl watertekorte en beurtwater voortduur.

Hierdie span bestaan uit twee ywerige gemeenskapslede, Tania Neethling en Johan Visagie. Neethling is verantwoordelik vir projekte en dienslewering, terwyl Visagie hoofsaaklik installering en ander algemene werk verrig. Saam pak hulle tans die waterkrisis by die horings deur seker te maak dat inwoners deur middel van watertenks toegang tot lopende water het.

Volgens Freda Strauss, ’n 80-jarige inwoner van Welkom, het haar waterprobleme in Desember 2025 tot so mate vererger dat sy meestal net tussen 03:00 en 05:00 in die oggend water gehad het en baie dae sonder enige water moes klaarkom. Elke Donderdag moes sy 26 bottels vol water tap sodat sy vir ’n rukkie water kon hê om die toilet te spoel of skottelgoed en vloere te was. Die oorblywende water was om te drink of om te gebruik om kos voor te berei. Dít was vir maande lank Strauss se roetine tot AfriForum se buurtspan in September vanjaar ’n watertenk en drukpomp by haar huis geïnstalleer het.

Vandag glimlag Strauss van oor tot oor danksy dié buurtspan se spoedige optrede. “Die eerste keer toe warm water uit die krane kom, het ’n ongelooflike dankbaarheid oor my gekom. Die Here het my gebede verhoor. Ek dank die Here vir mense soos AfriForum wat op my pad gekom het om my lewe op my oudag te vergemaklik.”

Die buurtspan ontvang by die dag meer versoeke vir die installering van watertenks in dié dorp.

Intussen is hierdie span van twee ook daarvoor verantwoordelik om weekliks vullis te verwyder by ses eiendomme en om herwinningsmateriaal by sewe ander kliënte af te haal.

Daarbenewens het hulle ook reeds sedert die span in Mei vanjaar op die been gebring is talle slaggate herstel en padtekens geverf by Primêre Skool Naudeville en Goudveld Hoërskool. Daar is ook herwinningspunte by Welkom Volkskool, Welkom Gimnasium en Goudveld Hoërskool wat dan elke tweede week deur die buurtspan opgetel word vir herwinning.

Die Welkom-buurtspan maak reeds ’n reuseverskil in hul gemeenskap, maar die geleentheid om deel te kan wees van só span beteken ook baie vir Neethling en Visagie.

Neethling meen dat AfriForum haar gehelp het om weer aktief deel te kan wees van die gemeenskap. “Ek geniet dit om hande te vat met AfriForum en op hierdie wyse betrokke te kan wees in my gemeenskap en self ’n verskil te kan maak.”

Visagie woon al 58 jaar lank in Welkom en het een middag verby ’n AfriForum-span gery waar hulle besig was om slaggate by ’n skool te herstel. “Ek het met Tania gesels en gevra of daar nie vir my ’n plekkie is om ook te kan help met hierdie tipe werk nie en dit is hoe ek betrokke geraak het. Dié werk het vir my nuwe uitdagings gegee en my opnuut laat besef dat ’n mens nooit te oud is om te leer nie.”

Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, sê dat sy trots is daarop om hierdie dinamiese duo deel te kan hê van haar span. “Hulle het in ’n kort tydjie reeds soveel suksesverhale bymekaar gemaak. Hulle is hardwerkend en geliefd onder ons kliënte. ’n Ware wenspan.”

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf