|

Onwettige mynbou in Pelgrimsrus: AfriForum dring aan op interdepartementele ingryping

Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)
Klankgreep: Lambert de Klerk (Engels)

AfriForum het vandag ’n beroep gedoen op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en drie regeringsdepartemente om dringend die grootskaalse onwettige mynbouaktiwiteite in die Pelgrimsrus-omgewing gekoördineerd te takel. Die burgerregteorganisasie het dié beroep gerig aan die SAPD en die departemente van Minerale Hulpbronne en Energie (DMHE), Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO) en Water en Sanitasie (DWS).

Onwettige mynbousindikate (algemeen bekend as zama-zamas) is openlik werksaam in die gebied, insluitend langs openbare paaie en in omgewingsensitiewe sones. Hierdie aktiwiteite veroorsaak onder meer omvangryke skade aan die omgewing, besoedel waterbronne en hou toenemende risiko’s in vir gemeenskapsveiligheid en omliggende ekosisteme.

AfriForum het die betrokke departemente versoek om ’n dringende, interdepartementele aksieplan te implementeer wat volgehoue ​​wetstoepassingsoperasies, onmiddellike watergehalte-assesserings, omgewingsremediëringsmaatreëls en duidelike regulatoriese toesig insluit.

“Onwettige mynbou in die Pelgrimsrus-gebied is nie meer ’n geheim of geïsoleerde kwessie nie. Dit het nou ’n diepgewortelde probleem geword weens swak wetstoepassing en ’n gebrek aan gekoördineerde ingryping,” sê Lambert de Klerk, Omgewingsakebestuurder by AfriForum.

Volgens AfriForum is die voortsetting van onwettige mynbouaktiwiteite strydig met verskeie wette, insluitend Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne, die Nasionale Omgewingsbestuurswet, die Nasionale Waterwet en die Nasionale Wet op Bosse. Ondanks die wetlike raamwerk, bly die afdwing daarvan egter inkonsekwent en onvoldoende.

Die besoedeling van waterstrome wat verband hou met onwettige mynbouaktiwiteite, wek veral kommer en bedreig waterstelsels wat stroomaf van die Pelgrimsrus-gebied vloei. Dié stelsels vorm boonop uiteindelik deel van groter riviernetwerke wat van kritieke belang is vir die landbou, gemeenskap en ekologies sensitiewe gebiede, insluitende die Nasionale Krugerwildtuin.

“Waterbesoedeling is nie net ’n plaaslike probleem nie,” verduidelik De Klerk. “Wat vandag in die Pelgrimsrus-gebied gebeur, het die potensiaal om stroomaf ’n verreikende impak op die omgewing te hê. Indien besoedeling ongehinderd voortduur, kan dit ook ekosisteme buite die onmiddellike gebied beïnvloed en ernstige implikasies inhou vir biodiversiteit, toerisme en watersekerheid.”

Benewens waterbesoedeling, het onwettige mynbou in die gebied reeds gelei tot ontbossing, gronderosie, vernietiging van natuurlike landskappe en ’n toename in gepaardgaande misdade soos wildstropery en die stroop van flora. Dié aspekte ondermyn bewaringspogings en plaas langtermyn ekonomiese aktiwiteite, soos veral toerisme, in gevaar.

“Die voortdurende versuim om beslissend op te tree, stuur ’n gevaarlike boodskap dat georganiseerde kriminele aktiwiteite openlik en sonder gevolge voortgesit kan word,” voeg De Klerk by. “Intussen word dit aan gemeenskappe en die omgewing oorgelaat om die prys te betaal, terwyl die oppergesag van die reg voortdurend ondermyn word.”

AfriForum waarsku dat indien die huidige situasie voortduur, die omgewingskade – veral aan waterstelsels – binnekort ’n punt kan bereik waar rehabilitasie nie meer haalbaar is nie.

“Suid-Afrika kan dit nie bekostig om toe te laat dat korttermyn, onwettige aktiwiteite sy natuurlike erfenis en kritieke waterbronne in gevaar stel nie,” sê De Klerk. “Beslissende optrede is nou nodig om onomkeerbare skade te voorkom.”

(Dekfoto: Brian Morris – Facebook)

Soortgelyke plasings

Veiligheid