| |

Slegs 8% van vullisterreine in Limpopo op standaard, toon AfriForum-oudit

Slegs 8%, oftewel een uit die 11 vullisterreine en oorlaaistasies wat vanjaar as deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit in Limpopo geoudit is, voldoen aan die minimum vereistes van verantwoordelike afvalbestuur. Dié terrein in Musina het sy nakomingspunt met 310% verbeter sedert dit in 2023 ’n nakomingspunt van net 20% kon bereik en vanjaar as die topterrein in die provinsie – en die enigste om die oudit hier te slaag – aangewys is met ’n nakomingspunt van 82%.

AfriForum se streekshoof vir Limpopo en Mpumalanga, Hennie Bekker, meen dié verbetering toon dat sukses haalbaar is, maar doelgerig en konstant moet wees. 

AfriForum se Vullisterreinoudit-verslag toon voorts dat Limpopo se terreine vanjaar ’n gemiddelde nakomingspunt van slegs 51% kon haal, net-net swakker as die Oos-Kaap se 55%, maar tog aansienlik beter as twee van Limpopo se buurprovinsies wat onderskeidelik nakomingspunte van slegs 40% (Noordwes) en 42% (Mpumalanga) kon bymekaarskraap. Die Wes-Kaap, met ’n gemiddelde nakomingspunt van 66%, het vanjaar die beste gevaar, met ’n gemiddelde nakomingspunt van 66%, terwyl Gauteng kort op dié provinsie se hakke is met 64%.

AfriForum het vanjaar 132 vullisterreine en oorlaaistasies in al nege provinsies geoudit, maar slegs 30 terreine, oftewel 23% hiervan, het aan minstens 80% van die vereistes van die oudit voldoen. Dit dui daarop dat gemiddeld van nagenoeg agt uit elke tien terreine landwyd ernstige tekortkominge in infrastruktuur, operasionele bestuur of nakoming van basiese vereistes toon.

Volgens AfriForum se Vullisterreinoudit-verslag wat pas bekendgestel is, het terreine in die Modimolle-Mookgopong Plaaslike Munisipaliteit veral swak gevaar. Die twee terreine wat in Mookgopong (Naboomspruit) en Modimolle (Nylstroom) getoets is, het die swakste in die provinsie gevaar en kon net ’n skamele 4% en 2% behaal.

Uit die 11 vullisterreine wat in Limpopo geoudit is, kon die volgende vyf terreine nie eens ’n nakomingspunt van 50% haal nie (die nakomingspunt is in hakkies aangedui):

  • Modimolle-vullisterrein,  Modimolle-Mookgopong Plaaslike Munisipaliteit (2)
  • Mookgopong -vullisterrein,  Modimolle-Mookgopong Plaaslike Munisipaliteit (4)
  • Thabazimbi-vullisterrein, Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit (26)
  • Hoedspruit-vullisterrein, Maruleng Plaaslike Munisipaliteit (44)
  • Mokopane-vullisterrein, Mogalakwena Plaaslike Munisipaliteit (48)

Hoewel die provinsie se terreine vanjaar ietwat beter presteer het as in vorige jare, meen Bekker dat die verval, agteruitgang en mislukking in die provinsie se vullisterreine duidelik bly en geensins prysenswaardig is nie. “Die verbetering in die provinsie se gemiddelde nakomingspunt is hoofsaaklik die gevolg van beter prestasie by verskeie terreine, maar dit het nog nie gelei tot ’n toename in die aantal terreine wat die oudit kon slaag nie,” verduidelik Bekker.

Verlede jaar het ook net een terrein in Limpopo, naamlik die Tzaneen-vullisterrein, aan die minimum vereistes van die oudit geslaag. Dié terrein kon egter nie vanjaar op sy 2025-prestasie voortbou nie en het vanjaar ’n nakomingspunt van slegs 70% ingepalm.

AfriForum het sy verslag vroeër vandeesmaand oorhandig aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE) in Pretoria. Die burgerregteorganisasie sal intussen voortgaan om munisipale vullisterreine jaarliks te moniteer en met owerhede, rolspelers in die bedryf en gemeenskappe in gesprek te tree oor praktiese oplossings vir die land se afvalbestuursuitdagings. Die organisasie moedig gemeenskappe ook aan om aktief betrokke te raak by verantwoordelike afvalbestuur, herwinning en plaaslike inisiatiewe wat die hoeveelheid afval wat na vullisterreine gestuur word, verminder.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid, Magsmisbruik