Sit Gauteng se nuwe nommerplate op ys, versoek AfriForum ná kommissie se bevindinge oor prysvasstelling
AfriForum het vandag ’n brief aan die Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, gerig waarin die organisasie eis dat die projek om nuwe nommerplate uit te rol, gestaak word totdat die Mededingingstribunaal sy vervolging van drie nommerplaatvervaardigers voltooi het. Dit volg nadat die Mededingingskommissie verlede week bekend gemaak het dat ’n kartel van blanko-nommerplaatvervaardigers sedert minstens Junie 2023 wederregtelik gelyke pryse vasgestel het. Die bevindinge is na die Mededingingstribunaal verwys vir vervolging.
AfriForum wys daarop dat die Gautengse regering nie van motoriste kan verwag om nou nuwe nommerplate te moet aanskaf, terwyl die Mededingingskommissie se bevindinge daarop dui dat nommerplate teen pryse bo markwaarde verkoop word nie. Die Gautengse regering is reeds sedert Junie verlede jaar besig met ’n loodsprojek van die nuwe nommerplate, wat volgens beplanning teen die einde van verlede jaar reeds voltooi moes wees.
Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, kon die provinsiale regering nie vroeër by navraag enige aanduiding gee wat die nuwe nommerplate sal kos en wanneer voertuigeienaars dit sal moet aanskaf nie.
“Aan die een kant word die verwagting geskep dat die nuwe nommerplate enige oomblik uitgerol gaan word, maar aan die ander kant hoor ons dat ons meer betaal vir nommerplate as wat ons moet,” sê Boshoff. “As die sogenaamde nommerplaatkartel reeds hul sakke volstop met hoë winste op die huidige nommerplate, dan lek hulle seker hul lippe af vir die miljoene nuwe plate wat binnekort in Gauteng verkoop moet word.”
Die Mededingingskommissie stel dat die beëindiging van hierdie kartel tot voordeel kan strek vir voertuigeienaars en alle ander partye in die bedryf. Boshoff beklemtoon dat dit reeds ’n groot deurbraak is.
“As die kommissie se bevindinge korrek is, dan beteken dit dat die provinsiale regering in die hande van ’n kartel sal speel deur voort te gaan met die uitrol van nuwe nommerplate. Dis die laaste ding wat hulle nou moet doen,” sluit Boshoff af.



