|

Hou die jongspan dié vakansie besig met AfriForumTV se doen-dit-self-reeks

Die skoolvakansie is net om die draai en hoe gemaak om die jongspan konstruktief besig te hou? Kinders gaan waarskynlik ook ten minste ’n gedeelte van hul vakansie voor ’n skerm deurbring. Hoekom dan nie iets kies wat hulle sal vermaak en sommer op dieselfde tyd iets leer nie?

AfriForumTV het nét die ding met die reeks Doen dit sommer self! Dié reeks is gemik op kinders van graad R tot graad 7, en in dié program word enigiets van kraleversierings tot ’n papierklavier en kaleidoskoop gemaak.

“Daar word goed gebruik wat maklik verkrygbaar is, om die items in die program te maak. Alles word stap-vir-stap verduidelik en is eenvoudig genoeg vir kinders om self te behartig. Daar is wel tye wanneer kinders met ’n skêr sal moet werk en ouers liefs dan moet toesig hou,” vertel Shinelle Brewis, koördineerder by AfriForumTV en aanbieder van seisoen een tot drie van Doen dit sommer self! Maatjies wat dié reeks reeds gekyk het, sal Brewis ken as Stella.

Die eerste drie seisoene van die reeks is reeds op AfriForumTV beskikbaar. Elke seisoen het 10 of 11 episodes. Die episodes is kort, kleurvol en word in keurige, maar maklik verstaanbare, Afrikaans aangebied. Kinders hoef natuurlik nie elke episode te kyk nie en kan bloot kies watter projek hulle graag volgende wil aanpak.

Doen dit sommer self! is só gewild onder die jongspan dat AfriForumTV besluit het om vanjaar nog drie seisoene te vervaardig. In dié nuwe reekse sal die Reënboogrant-akteur Duandré Vorster aantree as Vossie die aanbieder. Vir seisoen vyf en ses is kragte saamgesnoer met Experilab om nog meer moontlikhede vir items wat gemaak kan word, te ontgin.

Brewis meen dié reeks is ’n móét vir die jongspan. “Die reeks moedig kinders aan om self iets te maak en kreatief te wees.”

Kykers kan in die tweede en derde kwartaal van 2026 nuwe episodes van Doen dit sommer self! op AfriForumTV verwag. Hou gerus AfriForumTV se sosialemediakanale dop om meer uit te vind.

Besoek www.afriforumtv.co.za om in te teken vir puik Afrikaanse programme. Dis boonop heeltemal gratis!

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Ons is Afrikaners