AfriForum 20 jaar: Onthou jy nog? #2 (2008–2009)
AfriForum vier vandeesmaand sy 20ste bestaansjaar, en in dié reeks neem ons ’n voëlvlug oor die afgelope 20 jaar se suksesse, mylpale én selfs ’n paar komiese oomblikke in die organisasie se bestaan. Dié en vele meer gebeure is vervat in ’n 20 jaar-gedenkboek wat binnekort verskyn.
2008: AfriForum Jeug: ’n AfriForum-nuweling vir die jonger garde
In 2008 word die besluit geneem dat Solidariteit Jeug voortaan as AfriForum Jeug bekend sal staan. Ernst Roets word as uitvoerende hoof aangestel en een van hul eerste mylpale is die vrystelling van ’n uitgebreide verslag oor Afrikaans as tersiêre onderrigmedium. Vandag staan dié jeugorganisasie steeds sterk en het universiteits- en dorpstakke oor die hele land. Dié takke neem deel aan plaaslike projekte, veldtogte en aksies wat regtig vir jongmense saak maak.
2009: Die Bloedmelk-veldtog

In Oktober 2009 stuur AfriForum een van sy suksesvolste veldtogte van stapel. Die organisasie plaas druk op Nestlé om sy melkaankope van Grace Mugabe, eggenote van die Zimbabwiese president Robert Mugabe, te staak. Die veldtog het internasionaal opslae gemaak en meer as 75 000 mense het die webtuiste binne 24 uur besoek en via die webwerf (www.nestlebloodmilk.com) e-posse aan Nestlé se kantoor in Switserland gestuur om teen die aankoop van “bloedmelk” beswaar te maak. Die maatskappy is onkant gevang deur die omvang van die veldtog en het selfs daarop aangedring om ’n nagtelike vergadering met Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, hieroor te hê.



