AfriForum-takke woel in April om dorpe en woonbuurte op te knap
Gras het gevlieg, slaggate is by die hordes gevul en vullis is by die bakkievragte weggery soos wat AfriForum se takke in April oor die hele land heen gewerskaf het om hul dorpe en woonbuurte met volhoubare projekte te verbeter.
Noordstreek
AfriForum se Naboomspruit-tak het 5 ton sand voor Hoërskool Hans Strydom verwyder. Dié sand het bykans die hele pad vol gelê en die veiligheid van leerders en motoriste bedreig.
“Met al die reën wat ons gehad het, spoel sand in die pad in wat mettertyd opbou en die oppervlak van die straat amper heeltemal bedek. Ons het dus besluit om nie net die sand weg te vee nie, maar ons het dit ook weggery om te verhoed dat ons nie weer oor ’n paar dae met dieselfde probleem sit nie. Noudat die straat weer skoon is, kon ons ook padmerkers waar nodig oorverf,” verduidelik Hendrik Kotzé, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo.
Hierdie tak het ook 20 liter verf aangewend vir die padmerkers wat geverf is.

In Pretoria het AfriForum se Garsfontein-tak 25 liter verf vir hul onderskeie verfprojekte gebruik, terwyl die Springs-tak ook vyf padtekens met sement geanker het om diefstal te voorkom.
Sentraalstreek
’n Slaggatprojek is in April in Kroonstad afgehandel waar dié plaaslike AfriForum-tak meer as 11 ton teer vir herstelwerk gebruik het. Die Sasolburg-tak se grassnyprojek is nog goed op dreef met bykans 30 hektaar gras wat in April gesny is, en tussen die takke in Pongola en Bethlehem is meer as 200 swartsakke vullis tydens skoonmaakprojekte verwyder.
Volgens Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland-streek, is 400 sakkies teer gebruik om slaggate by die gholfbaan in Kroonstad te herstel. Die gholfklub het self die teer geborg en AfriForum het die werk gedoen.
As deel van AfriForum se skoleprojek is slaggate ook by die Trio Hoërskool, Trio Primêr en die Johan Slabbert Skool in Kroonstad herstel.
“Dit is weereens net ’n bewys dat ons as gemeenskappe ’n groot verskil kan maak wanneer ons saamwerk,” sê Ikking.

Suid- en Noord-Kaapstreek
AfriForum se takke in die Noord-Kaap het ook in April gewoel en in Delportshoop het die AfriForum-tak 5 ton klip en 3 ton gruis gebruik om gate in die grondpad te vul. Dié tak het ook die terrein by die dorp se verwelkomingsbord skoongemaak en reënwaterslote oopgemaak.
In die Oos-Kaap het AfriForum se Uitenhage-tak veiligheidsoudits by nege skole in onder meer Nxuba (voorheen Cradock), KuGompo Stad (voorheen Oos-Londen) en Kariega (voorheen Uitgenhage) onderneem.
AfriForum se Knysna-tak het op hul beurt meer as 3 ton teer gebruik om slaggate in dié dorp op die Tuinroete te herstel en bykans 2 hektaar gras is ook hier gesny.

“Inwoners moet besef dat weerbare en georganiseerde gemeenskappe die enigste verweer teen verval en agteruitgang is. Ons glo nie in politieke oplossings vir diensleweringsprobleme nie, maar eerder ’n selfdoenbenadering waar gemeenskappe self verantwoordelikheid neem. Ons werk ook nie soos politici bloot met die oog op die volgende verkiesing nie. Ons werk vir die volgende geslag. Daarom sal AfriForum voortgaan met projekte soos hierdie wat inwoners se lewensgehalte en veiligheid verbeter,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap oor die projekte wat in Knysna aangepak is.



