|

Staan opsy Sunnyside, Hillbrow en kie – Brooklyn is voor in die koor met motordiefstal

Deur Megan Swart

Dit is skynbaar veiliger om jou motor of motorfiets in Sunnyside, Pretoria, te parkeer as om dit in die Brooklyn-polisiëringsgebied te los. Dit is volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se misdaadstatistieke wat bevind het dat meer gevalle van motordiefstal die afgelope vyf boekjare by die Brooklyn-polisiestasie aangemeld is as by enige ander polisiestasie in die land.

AfriForum Jeug se Tuks-tak het egter die afgelope jaar praktiese stappe gedoen om seker te maak dat studente aan die Universiteit van Pretoria (UP) weerbaar staan teen dié soort misdaad.

Volgens die SAPD beslaan die Brooklyn-polisiëringsgebied die gebied vanaf Hatfield, Lynnwood en Waterkloof tot Newlands, Erasmusrand en ’n deel van Constantiapark. Elke kwartaal vir die afgelope vyf boekjare is dié gebied uitgesonder as ’n brandpunt vir motordiefstal.

Hoewel die voorkoms van motordiefstal in die Brooklyn-polisiëringsgebied die afgelope vyf boekjare elke kwartaal wipplank ry, is die gebied in 2024/2025 veral swaar getref deur dié misdaad. In dié betrokke boekjaar is gemiddeld twee tot drie motors of motorfietse per dag in die gebied gesteel. In die tweede kwartaal van 2024/2025 is boonop ’n totaal van 264 gevalle van motordiefstal by die Brooklyn-polisiestasie aangemeld. Dié syfer is ’n kortkop agter die swakste kwartaal van die afgelope vyf boekjare toe 265 diefstalle in die tweede kwartaal van 2022/2023 aangemeld is.

Parkering bly kopseer vir Tukkie-studente

Yvonne Gerber, jeugbeampte by AfriForum Jeug, meen die hoë voorkoms van motordiefstal in die Brooklyn-polisiëringsgebied oor die jare heen kan onder meer toegeskryf word aan die groot  hoeveelheid studente wat daagliks in die omgewing  van die universiteit se hoofkampus in Hatfield beweeg.

“Die universiteit het al jare lank ’n probleem met parkering. Daar is eenvoudig nie genoeg veilige, afgebakende parkering vir veral voorgraadse studente nie. Op ’n gewone dag besoek duisende studente die universiteit se Hatfield-kampus en studente moet dikwels op sypaadjies parkeer. Dit verhoog die kans dat studente se voertuie en motorfietse in hierdie area geteiken sal word,” sê Gerber.

Studente verbonde aan AfriForum Jeug se Tuks-tak het al in die verlede kapsie gemaak teen informele karwagte wat hulle teister en misdadigers wat hulself as karwagte voordoen. Die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit, die Brooklyn-polisiestasie en die Hatfield City Improvement District (CID) het gevolglik karwagte rondom die universiteit genader om hul te laat akkrediteer.

Só bemagtig AfriForum Jeug studente

AfriForum Jeug het, in samewerking met AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid, die afgelope jaar by verskeie geleenthede veiligheidsopleiding aan universiteitstudente gebied. Die doel van hierdie opleiding is om studente met kennis en praktiese veiligheidsvaardighede toe te rus om hulself te beskerm teen misdadigheid op en om kampus.

Gerber sê ’n groot deel van die opleiding se teoretiese elemente handel oor omgewingsbewustheid en lei studente om moontlike bedreigings te identifiseer en basiese beginsels toe te pas om hul veiligheid op te skerp.

“Die teoretiese element leer studente om deurgaans bewus te wees van wat om hul aangaan, insluitend die bewustheid wat nodig is wanneer jy in ’n ongewenste gebied jou voertuig moet parkeer. Die werksessie leer studente hoe om veilige areas te identifiseer, te let op die gebruik van seinblokkeerders en bewus te wees van die inhoud en toestand waarin hulle hul voertuie los,” sê sy.

Die praktiese komponent van dié opleiding, bekend as Veiligheid 101, bevat selfverdedigingstegnieke en scenario’s wat studente voorberei op moontlike situasies waar hulle hulself moet beskerm of vinnig hulp moet ontbied.

“Studente is dikwels ’n maklike teiken vir misdaad omdat hulle gereeld laat in die aand beweeg en soms onbewus is van hul omgewing. Hierdie tipe veiligheidswerksessies help om studente meer bewus en selfversekerd te maak wanneer dit by hul eie veiligheid kom,” sê Leam Nieuwoudt, ondervoorsitter en veiligheidsbeampte van AfriForum Jeug se Tuks-tak.

Die polisie se jongste misdaadstatistieke dui daarop dat ingrypings soos dié duidelik ’n beduidende impak op die gebied maak. Hoewel die Brooklyn-polisiestasie steeds teen die vierde kwartaal van die 2025/2026-boekjaar die stasie was waar meer motordiefstalle aangemeld is as enige ander stasie in die land, is ’n noemenswaardige afname in die getal gevalle hier aangeteken. Vergeleke met die 2024/2025-boekjaar, is 159 minder gevalle van motordiefstal in die 2025/2026-boekjaar aangeteken.

AfriForum Jeug het intussen ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by die Brooklyn-polisiestasie ingedien om toegang tot al dié stasie se misdaadstatistieke te bekom.

Dié jeugorganisasie wil as deel van sy verbintenis tot studenteveiligheid seker maak dat geteikende veiligheidsopleiding en -oplossings aan studente gebied word.

“Ons doel is om uiteindelik saam met die universiteit en ander veiligheidsrolspelers te werk sodat basiese veiligheidsopleiding, soos wat AfriForum Jeug tans aan universiteite oor die land heen bied, as deel van eerstejaars se oriëntering aangebied word,” sê Gerber.

AfriForum Jeug beoog intussen om nog ’n Veiligheid 101-werksessies in die derde kwartaal by die UP aan te bied om bewustheid oor studenteveiligheid verder op te skerp.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid