| | |

Vrotspul in Mangaung: Bloemfonteiners betaal terwyl vullissakke ophoop

Talle inwoners van die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit is vir byna twee weke al sonder betroubare vullisverwydering. Vullissakke hoop op voor huise, in strate en op sypaadjies en die reuk versprei deur die woonbuurte. AfriForum doen opnuut ’n beroep op die Mangaung-metro om dringend ’n proses goed te keur wat inwoners sal toelaat om gebruik te maak van privaat vullisverwyderingsdienste sonder om ook vir onbetroubare munisipale vullisverwydering te betaal.

Volgens AfriForum is die Mangaung-metro se voortgesette versuim om vullisverwyderingsdienste in Bloemfontein te lewer nie meer net ’n diensleweringsprobleem nie, maar ’n krisis wat inwoners se lewensgehalte en die gesondheid van die omgewing aantas.

“Daar kom ’n punt waar inwoners se geduld opraak. Mense betaal hul munisipale rekeninge, hou hul kant van die ooreenkoms en probeer steeds hul huise, strate en woonbuurte netjies hou. Tog word hulle beloon met hope vullis, stank, verval en ’n munisipaliteit wat nie daarin slaag om een van sy mees basiese pligte na te kom nie. Dit is ’n sigbare bewys van ’n metro wat sy inwoners in die steek laat,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein.

Te midde van die Mangaung-metro se versuim om dienste te lewer aan betalende inwoners het AfriForum se vullisverwyderingsdiens in Mei vanjaar 75,04 ton vullis in Bloemfontein verwyder.

AfriForum meen die metro kan nie aanhou verwag dat inwoners vir ’n diens betaal wat nie betroubaar gelewer word nie. Waar die munisipaliteit nie sy plig nakom nie, moet inwoners die reg hê om van die betrokke tariewe vrygeskeld te word en van alternatiewe, betroubare dienste gebruik te maak.

AfriForum moedig daarom lede aan om by AfriForum Vullisverwydering aan te sluit deur www.vullisverwydering.co.za te besoek. Lede kan ook deur dié platform hul aansoek vir vryskelding van munisipale vullisverwyderingstariewe rig.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf