|

Sáám is ons sterker, beklemtoon AfriForum tydens opleiding

AfriForum het op 7 Junie opleiding in belangrike aspekte ten opsigte van gemeenskapsveiligheid aan sy buurtwaglede, lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), wetstoepassers, lede van gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) en ander buurtwagte se lede aangebied. Hierdie opleiding, wat meer as 100 mense bygewoon het, stel veiligheidsrolspelers in staat om doeltreffende en doelgerigte operasies te hou wat altyd streng binne die raamwerk van die Grondwet is. Opleiding is aangebied in regsaspekte, patrollies, die hantering van misdaad- en ongelukstonele, en bevel en beheer.

AfriForum se Overstrand-tak was die gasheer, terwyl bywoners afkomstig was van die groter Overberg-streek, waaronder Swellendam, Die Strand, Somerset-Wes, Paarl en selfs Worcester. Daar was ook bywoners van Botrivier.

Johan Crous, AfriForum se koördineerder vir veiligheid in die suidstreek, het die opleiding aangebied. Crous sê dit is verblydend om te sien hoe gemeenskapslede kan saamwerk om gemeenskappe te beveilig. “Die opleiding het weereens beklemtoon dat veiligheid nie iets is wat in silo’s bedryf kan word nie. Ons is dankbaar vir elkeen wat die opleiding bygewoon het, want dit is elkeen se verantwoordelikheid om by te dra tot die veiligheid van ons gemeenskappe. Saam maak ons ’n verskil.”            

Sluit vandag nog aan by jou naaste AfriForum-buurtwag aan. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of bel hom by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings