Miljoene verkwis terwyl JB Marks rooskleurige beeld skets – AfriForum
AfriForum se Potchefstroom-tak het onlangs kommentaar ingedien oor die treurige toestand van die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit se geldsake en sy kommer uitgespreek oor die munisipaliteit se wanvoorstelling oor die stand van sake aan die publiek. Dit nadat die munisipale komitee oor openbare rekeninge (MPAC) ’n rooskleurige beeld van die munisipaliteit se prestasie by ’n openbare vergadering wou skets, terwyl daar in werklikheid miljoene rand aan onreëlmatighede afgestaan is.
Die MPAC-jaarverslag vir die 2024/2025-boekjaar wys op ernstige finansiële wanbestuur, gebrekkige beheer en swak dienslewering. Daar is onder meer bevind dat:
- sowat R210 miljoen aan onreëlmatige uitgawes bestee is;
- vrugtelose en vermorste uitgawes, wat grotendeels weens laatbetalings aan Eskom is, op R78 miljoen te staan gekom het; en
- altesaam R255 miljoen aan ongemagtigde besteding afgestaan is.
Daarbenewens is bevind dat die munisipaliteit ernstige tekortkominge in sy verkrygingsprosesse het, insluitend kontrakte wat toegeken word sonder behoorlike tenderprosesse; geen verantwoordbaarheid of dissiplinêre stappe teen oortreders ingestel word nie; gebrekkige skuldinvordering; en ’n afwesigheid van effektiewe interne beheermaatreëls en ouditstrukture.
Alhoewel die munisipaliteit reeds ’n ongekwalifiseerde oudit ontvang het, wys AfriForum daarop dat die inhoud van die verslag duidelik dui op sistemiese probleme en voortdurende finansiële wanbestuur.
“Die swak toestand van Potchefstroom spreek boekdele. Geen munisipale bestuurder of raad kan trots wees op die huidige stand van sake nie,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder van AfriForum se Mooirivier-tak.
“Die standaard verskoning van personeeltekorte en stadige prosesse is nie meer aanvaarbaar nie, veral nie wanneer basiese dienslewering, soos werkende straatligte en onderhoud op infrastruktuur, duidelik tekortskiet nie.”
AfriForum het daarvolgens ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om bestuurspraktyke te herstel en daadwerklik op te tree om dienslewering te verbeter. AfriForum het sy bereidwilligheid bevestig om saam met die munisipaliteit te werk om oplossings te vind, maar dring daarop aan dat politieke en administratiewe wil noodsaaklik is om werklike verandering teweeg te bring.
“Die burgerregteorganisasie bly daartoe verbind om die munisipaliteit aanspreeklik te hou vir die lewering van basiese dienste, asook die wydverspreide wanbesteding van fondse wat bedoel is om aan betroubare dienslewering bestee te word,” sê Douglas Bourn, voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak.
Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.



