Gesamentlike lêhoenderprojek lewer eerste bekostigbare eiers
Die gesamentlike lêhoenderprojek van AfriForum, Saai en die Prinses Gabo Stigting, op die plaas Blijdskap in die Thaba’Nchu-omgewing, het in Februarie ’n belangrike mylpaal bereik met die eerste verkope van eiers aan plaaslike gemeenskapslede – ongeveer 20 dosyn eiers is gelewer. Die primêre doel van die projek is om gemeenskapslede, maar veral swanger vroue en jong kinders, se toegang tot voedsame, proteïenryke voedsel teen bekostigbare pryse te verbeter. Die projek vorm deel van kgosi Gaboilelwe Moroka, kgosi van die Barolong Boo Seleka se landbouontwikkelingstrategie wat daarop gemik is om voetsoolvlakvoedselsekerheid te verbeter en om vir gemeenskapslede geleenthede te skep om ’n volhoubare inkomste te verdien.
Die vestiging van die Boschveld-lêhoenderprojek in 2025 is deels moontlik gemaak deur ’n skenking van die Internationaler Club im Auswärtigen Amt (ICAA) van Berlyn, Duitsland. In die beginfase is verskeie struikelblokke ervaar waaronder hoendervrektes, verliese as gevolg van rondloper honde en roofdiere, stormskade en lae eierproduksie. Hierdie uitdagings het egter waardevolle leergeleenthede vir die projekpersoneel op voetsoolvlak meegebring en gelei tot praktiese verbeterings in bestuur, voeding en beskerming van die hoenders.
AfriForum en Saai is by die projek betrokke deur hul landbou-ontwikkelingsinkubator, Resilient Regenerative Agricultural Initiative MSW (RRAIN).
“Dit is ’n hartseer werklikheid dat baie swanger vroue en klein kindertjies nie goeie toegang tot voedsame kos – veral diereproteïne – het nie, wat kinderontwikkelingsprobleme veroorsaak. Hierdie projek is ’n nederige poging om ’n daadwerklike verskil in kinders se lewe te maak en ek glo dat dit mense sal inspireer om die projek te ondersteun dat dit kan groei so groot soos die droom wat ons koester. Ek betuig ook graag my dankbaarheid teenoor die ICAA, AfriForum en Saai vir hul bydraes wat die projek moontlik maak,” sê kgosi Gabo Moroka, stigter van die Prinses Gabo Stigting.
“Hierdie projek wys dat volhoubare gemeenskapsontwikkeling moontlik is wanneer rolspelers, gegrond op gedeelde waardes en visie, saamwerk om voedselsekerheid en ekonomiese groei te bevorder. Die projek verbeter gemeenskapselfstandigheid en eie vermoë en fokus aktief daarop om nie afhanklikheid te skep nie,” sê Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder vir Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.
“Die projek gaan oor méér as net eiers. Dit skep plaaslike vaardighede, versterk landboukennis en bou aan ’n kultuur van selfstandigheid en verantwoordelikheid. Dit dra by tot ekonomiese aktiwiteit en langtermyn-gemeenskapsontwikkeling,” sê Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder van Saai.
Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, is goeie verhoudings en samewerking tussen verskillende kultuurgemeenskappe, gegrond op wedersydse erkenning en respek, noodsaaklik om die voorspoedige en vreedsame naasbestaan van gemeenskappe aan die suidpunt van Afrika te verseker. “Dit is vir AfriForum ’n voorreg om deel van die Kultuurgemeenskappe-netwerk te wees wat gemeenskappe in staat stel om mekaar te vind en saam te werk om die lewens van mense op voetsoolvlak te verbeter,” sluit Uys af.




