Regering kies rasbeleid bo die belange van gewone mense, sê AfriForum ná verwerping van Starlink-voorstel
AfriForum hou vol dat die regering hul rasbeheptheid opsy moet skuif, die belange van skoolkinders voorop moet stel en SpaceX se aanbod vir gratis internetverbinding vir 5 000 plaaslike plattelandse skole moet aangryp. Dié aanbod, deur die moedermaatskappy van die internetdiensverskaffer Starlink, is reeds meer as ’n jaar gelede gemaak op voorwaarde dat dié verskaffer toegang tot die plaaslike mark gegee word. Ondanks dié aanbod is die regering steeds onwillig om af te sien van die rigiede vereistes wat onder meer bepaal dat minstens 30% van die lisensiehouer-maatskappy in besit van swart persone moet wees, waar “swart persone” volgens wet onder meer jeugdiges en persone met gestremdhede kan insluit.
SpaceX het in Junie 2025 in ’n brief aan Parks Tau, minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, voorgestel dat ’n ekwiteit-ekwivalente program deur die maatskappy in Suid-Afrika van stapel gestuur word. In die brief is daarop gewys dat sulke programme reeds in verskeie sektore in Suid-Afrika geïmplementeer is en dat maatskappye soos Microsoft en Amazon reeds dié programme gebruik om aan plaaslike eienaarskapsverpligtinge te voldoen.
Starlink het aangebied om, as deel van ’n ekwiteit-ekwivalente program, gratis internettoegang te bied aan meer as 5 000 plaaslike plattelandse skole – dit wil sê, naastenby helfte van alle plattelandse skole in die land. Die departement en die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) het hierdie aanbod van die hand gewys en sedertdien nog nie van hul besluit afgesien nie. Intussen is Amerikaanse diplomate se pogings om ’n ooreenkoms te bemiddel, ook geïgnoreer.
Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder, meen dat die ANC-geleide regering só rasbehep is dat hulle besluite ten koste van die inwoners van die land sal neem, omdat hulle ’n ideologiese wrok teen ’n bepaalde wit sakeman koester. Elon Musk, stigter en uitvoerende hoof van SpaceX, is bekend vir sy veroordeling van die Suid-Afrikaanse regering se rasbeheptheid en sy weiering om rassediskriminerende vereistes na te kom ter wille van toegang tot ’n bepaalde mark.
“Gratis internettoegang aan plattelandse skole sal voordelig wees vir oorwegend arm, swart kinders. Daarenteen sal 30% swart -eienaarskap van Starlink net ’n klein groepie sakelui bevoordeel. Dit is dus duidelik dat die regering die belange van die elite bo dié van die armste dele van die samelewing stel,” verduidelik Boshoff. “Die ANC-geleide regering is dol oor swart tenderpreneurs, gee nie om oor plattelandse skoolkinders nie en haat beginselvaste sakelui wat glo in nierassigheid. Dít is al wat hul besluit bepaal het – nie gesonde verstand of morele waardes nie.”
AfriForum waarsku dat sulke ideologies-gedrewe besluite die voortsetting van tariefvrye handel met die VSA in gedrang bring. Die burgerregteorganisasie voer ook aan dat die toekenning van die nodige lisensie aan Starlink om dié internetdiens in Suid-Afrika bekend te stel, geag moet word as deel van die oplossing van die diplomatieke krisis met die VSA.
Volgens Boshoff is die weiering van toegang aan Starlink een element van die huidige diplomatieke krisis met die VSA. “Die Amerikaanse regering se voorstelle hou wedersydse voordeel vir Suid-Afrika en die VSA in. Tog weier die ANC dit bloot op ideologiese gronde,” sluit Boshoff af.



