| | |

Dagvaardings teen Mbalula en Malema eers op ys, wag op vertoë

Klankgreep: Barry Bateman (Afrikaans)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid bevestig dat dié eenheid korrespondensie van die Gautengse Adjunk Direkteur van Openbare Vervolgings, adv. Andrew Chauke, ontvang het om hulle mee te deel dat ’n dagvaarding op Fikile Mbalula beteken is om op 27 Oktober in die hof te verskyn. Dit is egter opgeskort in afwagting op ’n hersiening van die besluit deur die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, adv. Andy Mothibi. Dit het voorts onder die privaatvervolgingseenheid se aandag gekom, hoewel skriftelike bevestiging van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nog verwag word, dat ’n dagvaarding ook op Julius Malema beteken is om op 26 Oktober in die hof te verskyn. Dit is egter ook vir eers opgeskort hangende Mothibi se hersiening van die besluit om Malema te vervolg.

Mbalula en Malema staan ​​tereg op aanklagte van crimen injuria omdat hulle Jaco Pieterse, voormalige hoof van Bergview College, valslik in die openbaar as ’n kinderverkragter bestempel het. Die NVG het onlangs sy besluit bevestig om hulle te vervolg.

Wat Mbalula betref, volg hierdie verwikkeling nadat Chauke die verdagte se vertoë van die hand gewys het. Hy het die verdagte se regspan ingelig dat sy kantoor van mening is dat daar ’n prima facie-saak teen Mbalula bestaan ​​en dat die aangeleentheid vir beregting voor ’n bevoegde hof geplaas moet word.

Chauke het voorts die verdagte se ongegronde bewering dat die saak polities gemotiveer was, verwerp. Hy het die verdagte se regspan ingelig dat sy kantoor die strafsaakdossier deeglik bestudeer het en sy besluit op regsbeginsels en feite gegrond het. Hy het met vertroue verklaar dat daar geen politieke invloed en/of motivering by dié besluit betrokke was nie.

Die privaatvervolgingseenheid het volle vertroue in Chauke en verwelkom sy standpunt dat Mbalula verantwoording moet doen. Die eenheid hoop dat Mothibi ook die verdagte se vertoë as ’n nietige poging sal beskou om sy dag in die hof te probeer ontduik. Die privaatvervolgingseenheid glo ook dat Malema uiteindelik sy dag in die hof sal kry ten einde verantwoording te doen vir die valse en gemene bewerings wat oor Pieterse gemaak is.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik