| |

Taalhelde – Karl Kielblock, meester van historiese, speur- en spanningsverhale

“Ek skryf omdat dit vir my lekker is. En hoewel ek glo dat nie een van my werke ’n bydrae tot die letterkunde was nie, is ek tevrede dat ek ’n bydrae kon doen om my volk se leeslus aan te wakker.”

Dit was die woorde van die skrywer Karl Kielblock in 1979 in ’n onderhoud wat in die koerant Hoofstad gepubliseer is. Dit was ware woorde, want vandag sien ons dat die boeke in byvoorbeeld sy Lafras Cuyper-reeks onlangs heruitgegee is.

Ouer mense is nie net bekend met sy meer as veertig boeke nie, maar ook sy verhale wat vir radio en televisie verwerk is. Dit het gestrek van reekse en verhale met ’n “Ou Kaapse” agtergrond, tot moord- en spanningsverhale wat jou omtrent laat naels kou het!

Karl August Kielblock is op 23 Oktober 1907 op Beaufort-Wes gebore. Sy vader, Herman Frederick Kielblock, was as ingenieur by die poskantoor werksaam en sy moeder, Karoline Luïse, het na hulle gesin van elf kinders omgesien. Hulle huistaal was hoofsaaklik Duits. Die gevolg hiervan was dat hy volgens sy herinneringe vroeg met politiek en identiteitsvooroordele te make gekry het (waarskynlik in die jare om die Eerste Wêreldoorlog). Hy het vertel hoe moeilik dit was om “as ‘Hun’ uitgeskel en met beesmis betakel te word net omdat jou ma en pa toevallig Duits praat”.

Dit was moeilike jare, maar sy het gefokus daarop dat hulle hul so goed as moontlik moes bekwaam. Wat hulle aan geld tekortgeskiet het, het hulle in kultuur opgemaak met musiekaande en volop boeke om te lees. As kind was Karl dus ’n baie ywerige leser wat tot drie boeke op ’n dag kafgedraf het!

Nadat hy aan Beaufort West Boys High School matrikuleer het, wou Karl aanvanklik ’n joernalis word, maar weens beperkte geleenthede het hy aan die Paarlse Onderwyskollege gaan studeer. In 1928 het hy by Laerskool Hendrik Louw in die Strand as onderwyser in diens getree. Op 31 Maart 1939 is hy met Susan Vera Abel, ook ’n onderwyseres by dieselfde skool, getroud. Hulle het ’n seun en ’n dogter gehad.  Karl het by Laerskool Hendrik Louw aangebly tot met sy aftrede in 1967. Wat ’n merkwaardige diensrekord! Deur die jare het hy geleenthede vir bevordering tot hoof van skole van die hand gewys om eerder genoeg tyd te hê om te kan skryf. Ná sy aftrede het hy hom voltyds daaraan gewy.

Sy eerste boek, Die skat van Java, is die eerste keer in 1936 gepubliseer. Dit was ’n direkte gevolg van sy onderwyservaring. Hy het jare lank kortverhale en gediggies vir tydskrifte geskryf, maar op ’n dag sy leerlinge aangespreek oor hul verbeeldinglose opstelle. Om hulle aan te moedig om meer opwinding in hulle skryfwerk te blaas, het hy ’n inleiding vir hulle op die bord geskryf. Dit het breedweg gelui dat hulle op die strand speel, ’n pistoolskoot hoor en dan oor die duine hardloop om te sien wat aangaan. Hulle moes die verhaal verder skryf, maar hy het ook sy eie weergawe geskep. Die kinders het só daarvan gehou, dat hulle hom gesmeek het om die verhaal klaar te maak en siedaar – Die skat van Java het die lig gesien! Dit is ook een van sy boeke wat vir die radio verwerk is.

Daarna volg spanningsverhale, liefdesverhale en speurverhale soos die gewilde Moord op Eendevlei. In die speurverhale was sy held die onverskrokke Frans Lindenhof.

Hy was lief vir stories met ’n historiese agtergrond en het uiters noukeurige navorsing daarvoor gedoen. Die swaard verteer en Daar het ’n ster verskyn het beide ’n Bybelse agtergrond, terwyl Die helder stad oor die Kinderkruistog van die dertiende eeu handel. Lodewyk Alleman se soektog speel in die koloniale tyd in Namibië af, en Rebel tydens die Anglo-Boereoorlog met ’n Kaapse rebel as held.

Waarskynlik is sy mees geliefde skeppings egter die verhale met die vroeë koloniale Kaapse agtergrond, insluitend die reekse oor Lafras Cuyper, Jasper le Feuvre en Guillam Woudberg. Die laasgenoemde twee reekse is ook in televisiereekse verwerk. Vir die boeke oor Lafras Cuyper se avonture moes hy seevaartterme in Afrikaans vind of skep, en daarmee het hy ’n groot bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans gelewer.

Karl is op 27 November 1991 in die Strand oorlede. Huldeblyke het ingestroom en getuig van sy lesers se waardering. Benewens die gewildheid van sy verhale, het hy ook akademiese erkenning geniet, byvoorbeeld met die ontvangs van die Scheepers-prys vir Jeuglektuur vir Rebel in 1970. Verder is strate in die Strand en Bloemfontein na hom vernoem.

Op ’n keer het ’n resensent genoem dat sy naam nie by die “groot” Afrikaanse skrywers hoort nie, maar dat hy vir baie leesgenot gebied het. Soms moet jy wonder wie die grootste bydrae lewer – dié met die letterkundige werke wat moeilik lees en verstaan word, maar die literatore beïndruk, of diegene wat die liefde vir lees by mense vestig en deur verhale hul verbeelding en hul deernis met mense van ander eras en gemeenskappe oopskryf. Karl Kielblock hoort beslis by die laasgenoemde groep.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners