|

Van power tot pronk – AfriForum-buurtspan pak dié vyf projekte vir ’n beter Potch

Herwinning. Opknapping. Opruiming. En nou selfs messel-, sweis- en verfwerk. Met hierdie “wapens” in die arsenaal van AfriForum se Potchefstroom-buurtspan word daar om elke hoek en draai van dié dorp gewerk en gebou aan ’n beter én veiliger Potchefstroom. Dié span voltydse werkers het gedurende Julie behoorlik ingespring om daar waar powere munisipale dienste sy letsels op die dorp laat, sake te omskep in ’n dorp wat kan pronk van trots.

Hier is vyf van die projekte wat, ondanks die winterkoue, die afgelope maand op Potchefstroom aangepak is:

1. Maandag is N12-dag

Elke Maandag takel die AfriForum-buurtspan een van die belangrikste en besigste roetes in Potchefstroom wanneer dit onder meer middelmanne en padgeute skoonmaak op die strook vanaf Alfa-kafee tot duskant die Mooirivier-winkelsentrum, en vanaf die sentrum tot by Trimpark en Homestead-slaghuis. Dié projek word met trots geborg deur Potchefstroom Geesfees, en het al ’n instelling geword wat ’n merkbare verbetering in die netheid van dié roete tot gevolg gebring het.

2. Opleiding

Pleisterwerk
Sweiswerk

Terwyl die dorp in die Julie-vakansie stiller geraak het, het dié buurtspan die kans aangegryp op hul vaardighede op te skerp. Die span het opleiding ondergaan by Laerskool Baillie Park en terselfdertyd dié nuwe vaardighede ingespan om messel-, sweis- en verfwerk by die skool te doen.

3. Begraafplaasprojek

Die opgeknapte grafte in die Potchefstroom-begraafplaas

Die verval van begraafplase het ’n seeroog geword in byna elke uithoek van die land en Potchefstroom se begraafplaas het ook nie dié verval vrygespring nie. ’n Raadop familielid het die AfriForum-buurtspan in Julie genader om die instandhouding van ’n geliefde se graf te doen en omdat die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit die instandhouding van die terrein afskeep, het die span ingespring om dié laaste rusplek op te knap. Die publiek is welkom om ook van hierdie diens gebruik te maak in ruil vir ’n donasie om die volhoubaarheid van die span se aktiwiteite te verseker.

4. Skoonmaakaksie

Die opgeknapte groenstrook

Gedurende Julie is die groenstrook oorkant die Miederpark Spar in Walter Sisululaan skoongemaak. Die gras is gesny, padgeute en stormwaterdreinering is skoongemaak en vullis en gras is verwyder.

5. Herwinningsprojek

’n Splinternuwe herwinningskompetisie is pas afgeskop by drie Potchefstroomse laerskole – Laerskool Baillie Park, Laerskool M.L. Fick en Laerskool Mooirivier. Dié drie skole en twee skole van Rustenburg sal nou meeding om as AfriForum se eerste Blink of stink-kampioen aangewys te word. Die skool wat vir die duur van die projek die meeste plastiekbotteltjies vir die herwinningsprojek insamel gaan nie net dié titel opraap nie, maar ook R30 000 kontant.

Hierdie kompetisie skakel nou aan by die buurtspan se deurlopende herwinningsprojek. Deur hierdie projek het die span al nagenoeg een ton se herwinbare materiaal ontvang wat uiteindelik help om die druk op die plaaslike vullisterrein te verlig. 

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, is die werk wat die buurtspan verrig, te midde van die verval, broodnodig. “Waar die munisipaliteit jammerlik faal om ons mooie Potchefstroom in stand te hou, spring die buurtspan in om ’n tasbare verskil te maak. Om hierdie diens uit te brei, is die steun van die gemeenskap egter nodig. Daarom nooi ons die publiek uit om projekte te borg of kwotasies vir spesifieke take aan te vra, sodat die werk wat dié span doen nie net volhoubaar kan wees nie, maar ook kan uitbrei,” verduidelik sy.

Douglas Bourn, voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak, stem saam – samewerking is die sleutel. “Ons moet iets doen aan ons pragtige dorp, Potchefstroom. Kom ons staan almal saam met die nuwe buurtspan en sien toe dat daar binnekort sommer vyf buurtspanne in Potchefstroom funksioneer. Dit kan ons net gedoen kry as die gemeenskap ook van hul dienste gebruik maak en bou aan ’n beter Potchefstroom.”

Raak betrokke en help bou aan ’n Potch wat PRONK!

Raak vandag nog betrokke by Potchefstroom se AfriForum-tak en -buurtwag en maak jou bydrae om te help bou aan ’n Potchefstroom wat behoorlik kan pronk van trots. Kontak Douglas Bourn (083 232 1020) vir ’n kwotasie indien jy van die buurtspan se dienste gebruik wil maak, en Cornelia Blignaut (073 390 4133) om by die Potchefstroom-buurtwag aan te sluit.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf