Rampbestuursentrum draai land en regering ’n rat voor die oë
Verklaar BKS, waterkrisis, vloede amptelik as nasionale rampe, eis AfriForum ná rampklassifikasie
AfriForum doen ’n dringende beroep op Velenkosini Hlabisa, die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, om bek-en-klouseer (BKS), die land se waterkrisis en die onlangse verwoestende vloede in die noorde van die land amptelik as nasionale rampe te verklaar. Die burgerregteorganisasie eis verder dat die nodige regulasies in die Staatskoerant gepubliseer word om die volle wetlike meganismes in werking te stel om hierdie krisisse daadwerklik te bekamp.
Dié skriftelike versoek, wat AfriForum Woensdag aan die minister gerig het, volg nadat die Nasionale Rampbestuursentrum BKS en die vloede nog net geklassifiseer het as rampe, maar dit nog nie as sodanig verklaar het nie. Volgens AfriForum misbruik die Rampbestuursentrum die klassifikasie van ’n ramp om gemeenskappe en politici se monde te snoer in gevalle waar ’n ramp formeel verklaar moet word.
Kragtens artikel 23 van die Rampbestuurswet 57 van 2002 word daar met die klassifikasie van ’n ramp bloot erken dat ’n ernstige situasie bestaan en word daar daardeur bepaal watter sfeer van regering die aangeleentheid moet hanteer. Daarenteen verseker die verklaring van ’n ramp, soos deur artikel 27 van die wet omskryf, die beskikbaarstelling van onder meer hulpbronne, noodaankope en fondse.
In teenstelling met die klassifikasie van ’n ramp, word ’n nasionale rampverklaring deur die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake onderteken, waarna dit in die Staatskoerant gepubliseer word. ’n Rampverklaring is normaalweg vir drie maande geldig en word daarna hersien. Indien nodig, kan dit elke maand hersien word. Die regulasies word saam met die verklaring gepubliseer. Hierdie tydsbeperking van ’n verklaarde ramp verseker verantwoordbaarheid en voorkom misbruik van die rampverklaring.
Volgens AfriForum het die Rampbestuursentrum nou ’n gerieflike politieke narratief geskep deur die indruk te laat dat daar reeds ’n rampverklaring gemaak is. Selfs sommige regeringsdepartemente en lede van die publiek verstaan nie die verskil tussen ’n klassifikasie en ’n amptelike rampverklaring nie. Boonop skryf die wet nie voor hoe lank ná rampklassifikasie die verklaring daarvan moet volg nie. In sommige gevalle is die klassifikasie van rampe reeds in 2024 gedoen, maar tot op hede nog nooit amptelik as sodanig verklaar nie.
“Intussen is die verspreiding van BKS buite beheer en kan geen verdere fondse, noodprosedures of bykomende hulpbronne kragtens rampbestuurswetgewing geaktiveer word nie – bloot omdat die minister nie die Rampbestuursentrum se klassifikasie met ’n verklaarde ramp opvolg nie. Die werklikheid is egter eenvoudiger én ernstiger. Die probleem lê nie by die wetgewing nie – die wet is duidelik. Wat ontbreek, is spoed, kapasiteit, paraatheid, administratiewe doeltreffendheid en dissipline van die nasionale Rampbestuursentrum om meer verantwoordelik met die klassifikasie van ’n ramp om te gaan,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum.
Cooks waarsku voorts dat die huidige situasie tans neerkom op die misleiding van die publiek en regeringsinstellings. “Die land kan nie bekostig dat burokratiese traagheid en politieke berekening belangriker geag word as daadwerklike optrede nie. ’n Klassifikasie alleenlik is nie voldoende nie en die minister moet dringend ’n amptelike verklaring onderteken.”
Die land verdien duidelikheid, deursigtigheid en daadwerklike leierskap – nie om ’n rat voor die oë gedraai te word nie.



