| | |

Pretoria kies wéér AfriForum Teater as beste teater in dié stad

AfriForum Teater is vir die tweede agtereenvolgende jaar deur die Pretoria-gemeenskap as die beste teater in die stad aangewys – ’n besondere eer in die jaar waarin die teater ook sy vyfde bestaansjaar vier.

AfriForum Teater

Die Best of Pretoria-toekenning is egter meer as net ’n titel, dit is ’n pluimpie vir die mense wat die afgelope vyf jaar die teater se sitplekke vol gesit het, kunstenaars ondersteun het en gehelp het om ’n teater in Pretoria ’n ware tuiskomplek te maak.

Sedert AfriForum Teater se deure in 2021 geopen het, het meer as 500 000 mense reeds deur dié deure gestap. Dit is ’n halfmiljoen besoeke deur mense wat hier kom lag, luister, saamsing, toneel kyk, skoolproduksies ondersteun en herinneringe skep.

In dié vyf jaar het AfriForum Teater ook vyf musiekblyspele aangebied en het talle kunstenaars – van gevestigde name tot jong talent wat vir die eerste keer op ’n professionele verhoog staan – hier ’n plek gevind om hul kuns met ’n gehoor te deel.

Die teater het saam met die gemeenskap gegroei. Die foyer is vanjaar opgeknap en AfriForum Teater het ook die bestuur van sy kroeg- en restaurantbedrywighede oorgeneem om die volledige teater ervaring verder uit te bou.

AfriForum Teater

Agter elke mylpaal is daar verskeie mense. Dié mylpaal is danksy ’n gehoorlid wat ’n kaartjie koop; ’n ouer wat sy kind se skoolproduksie kom kyk; ’n kunstenaar wat agter die gordyn wag vir die spreilig om aan te gaan; die tegniese span wat lank ná die gordyn geval het steeds besig is; die personeel wat mense by die deur verwelkom en die barista wat ’n koppie koffie maak. Dan is daar ook die gemeenskapsorganisasies, skole en vennote wat aanhou om die teater te ondersteun.

“Die hart van AfriForum Teater was nog altyd sy mense. Ons wil hê dat elke persoon wat hier instap moet voel dat daar vir hom of haar plek is – of jy nou op die verhoog staan, in die gehoor sit, ’n kind is wat vir die eerste keer ’n teaterproduksie beleef, of ’n kunstenaar is wat al dekades lank optree. Hierdie toekenning behoort daarom net soveel aan ons gemeenskap as aan AfriForum Teater,” sê Salet Smith, bestuurder van AfriForum Teater.

AfriForum Teater bedank elke persoon wat in vanjaar se Best of Pretoria-kompetisie gestem het, asook elkeen wat die afgelope vyf jaar ’n kaartjie gekoop het en só die teater ondersteun het.

“Om vir ’n tweede jaar as Pretoria se beste teater aangewys te word, is ’n besondere voorreg. Om ná vyf jaar steeds ’n plek te wees waar mense wil saamkom, is egter die mylpaal wat die meeste beteken,” sluit Smith af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners