Misdaad knou Cederberg-gemeenskappe: Nóg 17 AfriForum-lede as eerste reageerders opgelei
AfriForum het tussen 14 en 17 Oktober nóg 17 lede van sy Cederberg-tak tydens Protospan 31 in die Cederberge opgelei om gemeenskappe beter toe te rus om op ernstige misdaad en noodsituasies te reageer. Die deelnemers is onder meer van Citrusdal, Clanwilliam, Graafwater en Lambertsbaai.
Die opleiding kom te midde van ernstige misdaadvoorvalle wat landelike gemeenskappe in dié streek die afgelope tyd onder druk plaas. Dit sluit onder meer diesel- en veediefstal, asook geweldsmisdade in.

Volgens AfriForum beklemtoon hierdie voorvalle waarom goed opgeleide gemeenskapsveiligheidstrukture noodsaaklik is, veral in uitgestrekte landelike gebiede waar hulp nie altyd onmiddellik beskikbaar is nie.
Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid, is gewone mense uit die gemeenskap dikwels eerste op die toneel wanneer daar ’n ernstige misdaad is. “Daarom kan ons nie bloot hoop dat iemand anders betyds gaan opdaag nie. Ons moet mense toerus met die kennis, vaardighede en dissipline om verantwoordelik op te tree wanneer hul bure hulle die nodigste het.”
Protospan-opleiding is daarop gemik om AfriForum se gemeenskapsveiligheidsvrywilligers as eerste reageerders voor te berei om binne die raamwerk van die wet op ernstige veiligheidsvoorvalle en noodsituasies te reageer. Die opleiding fokus onder meer op taktiese optrede, toneelbenadering, persoonlike en spanveiligheid, noodhulp en die verantwoordelike hantering van hoërisikosituasies.
“Ek stel regtig voor dat enige lid wat nog kan hardloop of loop hierdie kursus aanpak. Hierdie is ’n puik kursus en ons het baie geleer, van regsaspekte tot fisiese selfverdediging, wapenhantering en nog baie meer,” sê Mathys Koch, een van die deelnemers.
“Hierdie 17 lede gaan terug na Citrusdal, Clanwilliam, Graafwater, Lambertsbaai en die omliggende gebiede met vaardighede wat hulle kan gebruik om hul eie gemeenskappe veiliger te maak. Hulle doen dit boonop vrywillig. Dit is presies waarom gemeenskapsbetrokkenheid so ’n belangrike deel van ’n werkbare veiligheidsmodel is,” sê Broodryk.
Protospan 31 vorm deel van AfriForum se voortgesette uitbreiding en professionalisering van sy gemeenskapsveiligheidsnetwerk landswyd. AfriForum se buurt- en plaaswagstrukture werk binne die raamwerk van die wet en, waar moontlik, in samewerking met die SAPD, ander wetstoepassingsagentskappe, private sekuriteitsmaatskappye en ander rolspelers.



