|

AfriForum-tak verwyder 5 ton sand voor Laerskool Oranje-Noord én takel rits ander projekte

AfriForum se Upington-tak het vroeër vandeesmaand ’n berg sand, met ’n totale gewig van nagenoeg 5 ton, wat die plaaslike munisipaliteit reg voor Laerskool Oranje-Noord se hoofingang gelos het, opgeruim. Die sand het ’n veiligheidsrisiko ingehou vir leerders aangesien dit reg by die skool se voetoorgang gelê het.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se streekskoördineerder in die Noord-Kaap, het die munisipaliteit die hoop reeds ’n paar maande gelede hier byeengeskraap, maar versuim om dit te verwyder. Hy benadruk dat die ligging van die sandhoop in die besige Schröderstraat waar leerders veral voor en na skool die pad en voetoorgang moet gebruik, die veiligheid van leerders bedreig en die opruiming van die hoop genoodsaak het.  

Dié opruiming was egter net een van verskeie projekte wat dié AfriForum-tak sedert die begin van die maand getakel het by plaaslike skole en in ander dele van die dorp. In nog ’n projek het die tak die terrein tussen Hoërskool Duineveld en Laerskool Oranje-Noord opgeruim. Dié terrein is die grootte van nagenoeg een en ’n halwe rugbyveld. Gras is hier gesny en sowat 6 ton se gesnyde gras en 60 sakke vullis is hier opgeruim.

Ander projekte wat die tak die afgelope twee weke in Upington aangepak het, sluit onder meer in:

  • die sny van gras en die opruiming van die terrein voor die Gordonia-kliniek in Schröderstraat;
  • die afskuur en oorverf van 40 sementbakens naby skole om padveiligheid vir motoriste en voetgangers te verhoog;
  • die herstel van ’n waterlekkasie in die nywerheidsgebied waar duisende liter water vermors is;
  • die oorverf van ’n kragboks in Quarrystraat wat met graffiti ontsier was; en
  • die oorverf van ’n pakkamer by ’n park op die hoek van Quarry- en Wildebeesstraat.

Arnel van der Merwe, AfriForum se Upington-tak se omgewingsakeleier, beklemtoon dat gemeenskapsbetrokkenheid en praktiese optrede noodsaaklik is om die dorp se openbare ruimtes weer reg te ruk en in ’n goeie toestand te hou.

“Ons glo nie daarin om net te sit en kla wanneer openbare ruimtes agteruitgaan nie. Ons glo daarin om moue op te rol, planne te maak en self ’n verskil te maak. Elke sak vullis wat opgetel word, elke stuk gras wat gesny word en elke waterlekkasie wat herstel word, dra by tot ’n beter omgewing vir ons gemeenskap,” sê Van der Merwe.

Praktiese gemeenskapsbetrokkenheid bring verandering

Ondernemings en inwoners van Upington se betrokkenheid by dié AfriForum-tak se projekte maak volgens Strauss ’n reuseverskil in die uitvoerbaarheid van projekte wat ten bate van hierdie Noord-Kaapse gemeenskap aangepak word.

Fit-It Upington dien as sprekende voorbeeld van ’n plaaslike onderneming wat met AfriForum hande vat om die dorp op te bou, meen Strauss. Dié onderneming het onlangs sy bakkie aan die tak beskikbaar gestel om opgeruimde vullis en gesnyde gras weg te ry. “Hierdie ondersteuning het ’n wesenlike bydrae tot die sukses van die projekte gelewer,” sê Strauss.

“Die tak het onlangs ook ’n rits nuwe toerusting aangekoop, waaronder ’n kettingsaag en  bossiekapper. Hierdie toerusting help reeds om uiteenlopende opknappingsprojekte met groter gemak kaf te draf, en sal ons in staat stel om ook toekomstige instandhoudingsprojekte meer doeltreffend aan te pak en sodoende die tak se vermoë om die gemeenskap te bedien, verder uitbrei,” benadruk Strauss.

Die Upington-tak se nuwe bestuur wat aan die einde van September verkies is, se positiewe gesindheid en bereidwilligheid om saam te werk, werp reeds af. “Ons het ’n wenspan wat bereid is om hande te vat en saam te werk. Wanneer mense hul tyd, energie en kundigheid beskikbaar stel, kan ons groot dinge vermag. Ons is dankbaar vir elke bestuurslid en ondersteuner wat help om van hierdie projekte ’n sukses te maak,” sluit Strauss af.

Raak vandag nog betrokke

AfriForum se Upington-tak nooi die gemeenskap en plaaslike ondernemings uit om by die tak betrokke te raak en sodoende ’n tasbare verskil in Upington te maak deur openbare ruimtes op te knap, watervermorsing te beperk en ’n netjieser en veiliger omgewing vir inwoners te bevorder. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf