Platō-medestigter deel entrepreneurswenke met Pretoria-sakenetwerk



Petrus Bredell, medestigter van die gewilde Platō-kettingkoffiewinkel, het op 25 November die Pretoriase AfriForum Sakenetwerk-lede toegespreek tydens ’n netwerkgeleentheid by Menlyn Boutique Hotel. Bredell het onder meer gepraat oor Platō se beskeie beginjare en onlangse suksesse.
Bredell vertel dat hy en sy broer, Stephan, ongeveer ses jaar gelede ’n skeepsvraghouer en koffiemasjien bestel het en resepte op die proef begin stel het. Bredell meen hy het aan die begin niks van koffie-maak geweet nie, maar dat instink en goeie beplanning hand aan hand geloop het met elke besluit wat hulle moes maak. Platō het vinnig ’n deel van talle mense se daaglikse roetine geword en intussen uitgebrei tot meer as 160 winkels oor Suid-Afrika heen en in April vanjaar het die eerste oorsese Platō-tak sy deure in London geopen.
’n Onderneming wat deur een familie bedryf word bied ook bepaalde uitdagings wat ’n groot korporatiewe maatskappy nie noodwendig mee te doen het nie, maar Bredell meen dat dit ook ’n voorreg is aangesien familietyd daarvolgens ingerig kan word.
Volgens Hanno Pienaar, voorsitter van die Pretoria-sakenetwerk en eienaar van Platō-koffiewinkels, is die 1%-filosofie van Bredell ’n deurslaggewende faktor wat sy eie besigheidsfilosofie opgeskerp het. Dié filosofie behels dat entrepreneurs daarna moet streef om in alles wat hulle aanpak minstens 1% te verbeter op ’n vorige keer.
“Dit was interessant om te hoor hoe ’n suksesvolle handelsnaam soos Platō van ’n nederige idee tussen twee broers ontwikkel het tot ’n vooruitstrewende naam in die koffiebedryf deurdat ’n droom groot genoeg was om al die struikelblokke uiteindelik te oorkom,” sê Pienaar.
Die Pretoria-sakenetwerk, kom maandeliks byeen om na ’n spreker te luister, opleiding te ontvang en met mede-lede en sake-eienaars te netwerk. Die volgende geleentheid vind op 3 Februarie 2027 by die Harlequins Rolbalklub plaas. Besoek www.afriforumsakenetwerk.co.za vir verdere inligting.



