Oormatige gebruik van kontrakteurs in Metsimaholo dui op swak hulpbronbestuur – AfriForum
Die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit se oormatige gebruik van kontrakteurs om instandhoudingswerk aan riool- en padinfrastruktuur te doen, is volgens AfriForum ’n ernstige wanaanwending van munisipale hulpbronne. AfriForum het in ’n skrywe aan die munisipale bestuurder, Basi Motloung, vrae geopper oor die gebruik van kontrakteurs in pleks van munisipale werkers, wat volgens die burgerregteorganisasie ’n groot deel van hierdie werk self behoort te verrig.
Die inwoners van Sasolburg en die omliggende gebied ervaar gereeld ernstige probleme met betrekking tot dienslewering. Rioolstortings, vervalle paaie en swak straatbeligting is sommige van die uitdagings wat inwoners op ’n daaglikse basis moet trotseer. Dit terwyl talle munisipale hulpbronne in ongebruik staan.
Talle munisipale voertuie en toerusting is oënskynlik buite werking weens geringe probleme, soos vervalde lisensies en pap bande. In plaas daarvan om hierdie hulpbronne weer operasioneel te maak, word kontrakteurs ten duurste aangestel om take te verrig wat die munisipaliteit self behoort te doen.
“Belastingbetalers betaal uiteindelik die prys vir swak bestuur en die ondoeltreffende aanwending van munisipale hulpbronne. Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit aanhou om kontrakteurs aan te stel terwyl bestaande kapasiteit nie behoorlik benut word nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
In die skrywe versoek AfriForum duidelikheid oor onder meer hoe munisipale werkers tans benut word; watter prosesse in plek is om munisipale voertuie en toerusting beter in stand te hou; die kriteria vir die aanstelling van kontrakteurs; en stappe wat gedoen word om onnodige uitgawes aan kontrakteurs te verminder.
“Die geld wat aan kontrakteurs bestee word, kan eerder gebruik word om munisipale werkers verder op te lei en die nodige toerusting aan te koop om die werk in die toekoms self te doen,” sê Braam Muller, voorsitter van AfriForum se Sasolburg-tak.
AfriForum bly verbind tot die bevordering van ’n verantwoordelike plaaslike regering wat dienslewering volhoubaar lewer. Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak en -buurtwag betrokke te raak om ’n daadwerklike verskil te maak. Kontak Braam Muller by 076 125 7773 vir meer inligting.



