|

Marteling, brutaliteit en buitensporige geweld in plaasaanvalle blootgelê in nuwe verslag

In Julie 2020 is die 64-jarige Schalk Coetzee en sy vrou, Lana (63), op hul plaas naby Reivilo in Noordwes oorval. Die aanvallers het kookwater op Schalk gegooi en hom vasgebind, terwyl Lana aangerand is en haar neus gebreek en haar wangbeen gekraak is.

Die 36-jarige Natie Vos is in Januarie 2025 voor sy vrou en drie klein kinders aangeval op hul plaas buite Musina in Limpopo. Hy is herhaaldelik met ’n hamer en gholfstokke geslaan.

Andries Myburg (31) is in Oktober 2020 op sy plaas in die Vrystaat aangeval. Petrol is op hom uitgegooi en hy is aan die brand gesteek.

Foto’s: Facebook

Dié en 44 ander uiters gewelddadige plaasaanvalle wat vanaf 2019 tot 2025 plaasgevind het, toon dit duidelik – marteling van plaasaanval-slagoffers is nie ’n mite nie. Dit vind keer op keer plaas en word gekenmerk deur uiterse geweld, die gebruik van wapens, afpersing en ernstige fisieke beserings.

Dié skokbevindinge is vervat in nuwe verslag wat AfriForum pas bekendgestel het en waarin 47 plaasaanvalle bestudeer is. Dié verslag – getiteld More than robbery: Violence during attacks on farms and smallholdings in South Africa, 2019–2025 – bevestig ook dat die buitensporige geweld wat sommige plaasaanvalle kenmerk, daarop wys dat plaasaanvalle nie blote roof is nie.

Wat is marteling?

Daar is geen enkele vaste definisie van wat as marteling geag word nie. Lande en organisasies het uiteenlopende definisies daarvoor. Vir die doeleindes van hierdie verslag het AfriForum op betroubare bronne gesteun om ’n omvattende definisie vir die konteks van plaasaanvalle te formuleer.

Luidens More than robbery kan marteling, in die konteks van plaasaanvalle, gedefinieer word as “die opsetlike toediening van ernstige fisieke of emosionele pyn, lyding, wreedheid en/of geweld” aan slagoffers van plaasaanvalle. Voorbeelde van pyn, lyding, wreedheid of geweld sluit volgens die definisie onder meer in ernstige aanranding, verminking, verbranding, afpersing, mishandeling, intimidasie en seksuele aanranding.

’n Noodsaaklike ondersoek met skokkende bevindinge

Oor waarom dit juis noodsaaklik is om deur navorsing te bewys dat marteling wel tydens plaasaanvalle voorkom, stel AfriForum se hoofwoordvoerder van Gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, dit duidelik: “Oor die afgelope paar jaar het ons gesien dat daar baie mense is wat plaasaanvalle probeer afmaak as net gewone misdade en die kwessie wil gering maak. Daarom is dit vir ons baie belangrik om dit duidelik te stel dat plaasaanvalle ’n unieke tipe misdaad is wat ’n unieke teenstrategie verg.”

Juis daarom het AfriForum met die bekendstelling van hierdie verslag weer ’n beroep op die regering gedoen om plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad te erken wat deur middel van ’n gespesialiseerde benadering en strategieë bekamp moet word.

Die verslag toon dat sommige plaasaanvalle gekenmerk word deur uiterse geweld wat fisiek, emosioneel of seksueel van aard is.

Broodryk hou vol dat wanneer hierdie gewelddadige aanvalle bestudeer word, die afleiding gemaak kan word dat dié aanvalle gepaard gaan met elemente van haat teenoor die slagoffers. “As ’n mens dan in ag neem dat daar opswepery is met liedere soos ‘Kill the Boer, kill the farmer’ en besef dat daar gevalle is waar die slagspreuk ook deur aanvallers tydens aanvalle gebruik is, moet ons aflei dat daar hoë vlakke van haat by die hierdie tipe aanvalle is,” verduidelik hy.

Hy hou egter vol dat misdade meer as een motief kan hê en dat die motief vir aanvalle soos dié diefstal en haat teenoor die slagoffers kan insluit.

Broodryk gee raad oor hoe om jouself weerbaar te maak teen plaasaanvalle.

AfriForum sit stryd teen plaasaanvalle voort

AfriForum sal in die lig van die realiteit van plaasaanvalle voortgaan om sy 178 buurt- en plaaswagte uit te brei en te versterk, en te belê in die opleiding van vrywilligers en die uitbreiding van sy gespesialiseerde reaksievermoë, tegnologie en kommunikasienetwerke.

Omdat die fisieke en emosionele gevolge van plaasaanvalle verder strek as die onmiddellike misdaadtoneel, sal die organisasie ook die kapasiteit van sy traumaeenheid uitbrei, en voortgaan om plaasaanvalle te dokumenteer.

AfriForum sal ook aanhou om die realiteite wat landelike gemeenskappe ten opsigte van misdaad ervaar, bloot te lê en druk op die regering uit te oefen om die doeltreffende implementering van die nasionale landelike veiligheidstrategie te verseker.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid