AfriForum groet geliefde kampvegter
Deur Megan Swart
Nog voordat hy diep spore in die gange van AfriForum-takke in die Kaapse provinsies getrap het, het Johan Spamer geleef met ’n roeping – ’n wete dat hy deur die genade van Bo die voorreg het om aan iets groter as homself te werk. Oom Johan, soos wat hy onder taklede bekendgestaan het, het met dié wete nagenoeg 14 jaar gelede by AfriForum betrokke geraak en oor die jare heen gehelp bou aan die blywend vry, veilige en voorspoedige voortbestaan van Afrikanergemeenskappe in onder meer Williston en Vredendal.
“Naas God en sy geloof, was Oom Johan se familie en sy gemeenskap vir hom die belangrikste goed op hierdie aarde. Sy hart het behoorlik vir AfriForum en die gemeenskap van Williston geklop,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum, wat oor die jare heen talle projekte saam met Oom Johan aangepak het.

Kort voordat hy in Desember verlede jaar by die Durbanville Mediclinic opgeneem is, het Oom Johan nog met Cooks van AfriForum se Rampbestuurafdeling gewerk om droogtehulp vir die boere van die Williston-omgewing te reël. Derhalwe is 12 ton voer aan boere in die omgewing afgelewer.
Oom Johan is skaars ’n maand later, op 17 Januarie, in die ouderdom van 84 aan nierversaking oorlede. Hy word deur sy vrou van 61 jaar, drie kinders en vyf kleinkinders oorleef.
“As onderwyser, weermagoffisier, kultuurman, skaapboer in die Karoo en bowenal ’n gelowige in Christus, het my pa verstaan dat die Here sy Herder is,” sê Johan jnr., Oom Johan se seun.
Oom Johan het tot op die einde toe dié boodskap verkondig – selfs in die hospitaal waar hy in sy laaste dae behandel is. Hy was lief daarvoor om rooi Gideons-Bybels in sy boonste hempsak rond te dra en dit uit te deel. In sy laaste paar dae het hy daarmee voortgegaan én Psalm 23 verkondig aan enigeen wat sou luister.
Oom Johan was behoorlik ’n man van die mense en het volgens sy geliefdes “soveel tyd vir sy medemens gehad”. Die kennis wat hy opgedoen het in sy tyd as luitenant-kolonel in die weermag, onderwyser en dosent aan die destydse Kaapse Technikon, skaapboer in die droë Noord-Kaap en selfs as lid van die stadsraad in Malmesbury, het hom die ideale kandidaat gemaak om plaaslike aangeleenthede op voetsoolvlak aan te pak.
Hy het in 2012, as ’n kampvegter vir AfriForum, die Williston-tak gestig en vir jare lank as voorsitter gedien. Later, ná sy aftrede, was hy ’n bestuurslid van AfriForum se Vredendal-tak en het met sy dryfkrag verskeie plaaslike kwessies help pak.
“Hy was ’n ware Afrikaner in murg en been, wat altyd die ekstra myl vir sy gemeenskap geloop het. Die mense van AfriForum gaan hom mis,” sê Corné Cronjé, AfriForum se hoof van Gemeenskapsbou, van dié getroue AfriForum-man met wie hy jare lank ’n nou pad gestap het.
Oom Johan, AfriForum groet jou.
Die gedenkdiens vind Saterdag 31 Januarie om 11:00 by die AGS Oase Vredendal plaas. Die diens sal ook regstreeks op YouTube uitgesaai word.



