Beskuldigde wat vrou glo met skroewedraaier steek voortvlugtig vir langer as ’n jaar
Langer as ’n jaar nadat ’n man op die vlug geslaan het op die dag wat hy van ’n wreedaardige, geslagsgebaseerde aanval verhoor moes word, toon die polisie geen belangstelling om hom aan te keer nie. Dit blyk boonop dat hulle wenke oor sy moontlike ligging geïgnoreer het. Helena Fairlie, wat verskeie kere met ’n skroewedraaier gesteek is, het dit op haarself geneem om Gregory Kleynhans op te spoor en het haar nou tot AfriForum se Privaatvervolgingseenheid gewend vir hulp.
Terwyl die eenheid ’n dringende skrywe aan die polisie gerig het om ’n verduideliking vir hul oënskynlike mislukkings te eis, doen die privaatvervolgingseenheid ook nou ’n beroep op die publiek om met inligting vorendag te kom om Kleynhans op te spoor en te verseker dat geregtigheid geskied. Die beskuldigde en Fairlie was voorheen in ’n verhouding.
Op 6 Desember 2022 het Kleynhans na bewering Fairlie buite ’n gastehuis in Centurion aangeval terwyl sy op pad was werk toe. Hy het haar glo aan haar hare gesleep, probeer om haar in sy motor te dwing, die deur teen haar toegeslaan en haar verskeie kere met ’n skroewedraaier gesteek. Toe bure op Fairlie se desperate hulpkreet gereageer het, het Kleynhans die skroewedraaier laat val en die toneel gevlug. Fairlie is vir steekwonde aan haar bobene en bors behandel.
Die polisie het glo Kleynhans ’n dag ná sy inhegtenisneming weer vrygelaat. Die polisie het versuim om Fairlie in kennis te stel oor die omstandighede rondom sy vrylating en of hy onderhewig was aan enige voorwaardes vir sy vrylating.
As gevolg van haar aandrang dat Kleynhans vervolg word, sowel as haar weiering om aan enige bemiddeling deel te neem, is die saak uiteindelik op die hofrol van die Pretoriase Landdroshof vir 13 en 14 Maart 2024 geplaas. Ten spyte daarvan dat hy voorheen ’n regsverteenwoordig gehad het, het hy sonder sy regsverteenwoordiger by die hof opgedaag en om regshulp aansoek gedoen. Die getuies, wat almal teenwoordig was, is toe meegedeel dat die verhoor op 28 Oktober 2024 sou begin. Al die getuies was die oggend teenwoordig, maar Kleynhans het nie opgedaag nie, wat die hof daartoe gelei het om ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uit te reik.
Onlangs het Fairlie die aanlyn nuusplatform Maroela Media gekontak, wat oor die saak berig en haar na die privaatvervolgingseenheid verwys het.
Die ma van twee sê die ondersoekbeampte het min belangstelling in die saak getoon. “Van die begin af was die ondersoekbeampte stadig om enigiets te doen, veral nadat die lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik is. Daar was gedurig ’n heen en weer. Hy was altyd uit die kantoor en maande het verbygegaan waar hy net niks gedoen het nie. Ek moes hom talle kere bel. Ek het dit op myself geneem om die saak op sosiale media te plaas met Gregory se foto en die saaknommer om te sien of ek hom kan opspoor,” sê sy.
Fairlie het die ondersoekbeampte met inligting verskaf oor die beskuldigde se moontlike blyplek en afgesien van ’n oproep na die beskuldigde se ma om te sien of hy by haar was, is geen verdere stappe gedoen nie. Sy het die ondersoekbeampte ook in kennis gestel dat hy moontlik saam met ’n geïdentifiseerde vroulike metgesel in Brakpan gesien is.
Fairlie het aan die eenheid ’n klankgreep verskaf wat Kleynhans na bewering opgeneem en aan haar suster gestuur het op die oggend van die aanval waarin hy sê: “Vanoggend het net handuit geruk, ek wou net vyf minute van haar tyd hê, net om met haar te praat”. Fairlie sê sy het die ondersoekbeampte van die opname ingelig, maar is meegedeel dat hy dit nie as bewysstuk benodig nie.
Fairlie sê sy voel in die steek gelaat deur die polisie. “Van die begin af het dit gevoel asof niemand my regtig wou help nie. Ek gaan deur al hierdie trauma. Destyds was my seun slegs 11 jaar oud en ek moes daar wees vir hom. Ek het nie eens my huis vir ’n hele jaar verlaat nie, ek het nêrens heen gegaan nie. Ek is gefrustreerd en teleurgesteld in die polisie, veral die ondersoekbeampte,” sê sy.
Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, sê Fairlie se saak is nog ’n voorbeeld van die staat se versuim om geslagsgebaseerde geweld met die nodige erns te hanteer. “Meer as drie jaar sedert die aanval wat Helena amper dood gelaat het, is die beskuldigde nie verhoor nie omdat die polisie óf onwillig óf nie in staat is om hom op te spoor nie. Soos met soveel ander gevalle van geslagsgebaseerde geweld, wend die slagoffers hulle tot AfriForum se Privaatvervolgingseenheid wanneer die staat versuim om hul werk te doen. Elke dag wat Gregg Kleynhans die polisie ontduik, is nog ’n dag wat Helena en haar kinders in gevaar is. Die eenheid het die bevelvoerder van die Wierdabrug-polisiestasie gevra om onmiddellik aandag aan die saak te gee, maar doen ook ’n beroep op die publiek om na vore te kom as hulle enige relevante inligting het,” sê Bateman.
“Soos ons al tallose kere tevore gesê het, is dit nog ’n voorbeeld van die staat se lippediens aan hul verbintenis om geslagsgebaseerde geweld te prioritiseer en spesiale aandag daaraan te gee. Ons het al president Cyril Ramaphosa gehoor na geslagsgebaseerde geweld as ’n pandemie verwys, maar ervaar ongelukkig daagliks die laissez-faire-benadering van die SAPD en die NVG,” sê adv. Gerrie Nel, wat nou gemagtig is om te verseker dat geregtigheid geskied.
Bateman sê dat in hierdie geval, soos in baie ander, was die aanklaer se enigste poging om die klaer voor te berei om te getuig, om haar vooraf haar verklaring te laat lees. “Slagoffers van misdaad, veral geslagsgebaseerde geweld, moet deeglik geraadpleeg word voordat hulle geroep word om te getuig. Versuim om dit te doen, stel hulle bloot aan kruisondervraging deur ervare advokate. Dit is eenvoudig onaanvaarbaar en weerspreek die NVG se verklaarde slagoffergesentreerde benadering tot die hantering van geslagsgebaseerdesake.”
Die beskuldigde se volle naam is Gregory Derick Kleynhans, maar gebruik die voornaam Gregg. Hy staan ook bekend as Gregg Wexler en bly moontlik by familielede in Brakpan, Hartbeespoort of Mokopane. Die eenheid het foto’s van Kleynhans verskaf en enigiemand met inligting oor waar hy homself bevind word versoek om die eenheid per e-pos te kontak by onsvervolg@afriforum.co.za.



